Hoofleiers 2026. Schools That Rock gesels met skole se Hoofleiers 2026. Ansje Bekker, Hoofdogter 2026, gesels oor haar leierskap hierdie jaar.
Vir Ansje Bekker beteken dit ’n groot eer om die rol van hoofdogter in 2026 te vervul. Sy beskryf dit as ’n kans om terug te gee aan die skool wat haar die afgelope vyf jaar soveel gebied het. “Ek sien dit met ’n glimlag,” sê sy, “want dit is ’n taak wat ek gewillig en met oorgawe aanpak.”
Ansje glo haar sterkste leierskapseienskappe lê daarin dat sy niemand uitsluit nie en dat sy ’n goeie luisteraar is. Sy wil leerders inspireer deur self die voorbeeld te stel, omdat aksies volgens haar altyd harder praat as woorde. Haar drie kern-doelwitte vir die jaar is om eenheid te bevorder, deursettingsvermoë aan te moedig en opgewondenheid in die skoolgemeenskap te skep.
Op die VRL-kamp het sy en haar medeleiers besluit om ’n brug te bou tussen sport en kultuur. Ook om sterker samewerking tussen alle leiers te vestig. Hierdie nuwe inisiatief is gemotiveer deur die begeerte om mekaar te ondersteun en saam te werk vir die beste belang van die skool.
Aktiwiteite
Inklusiwiteit en kulturele sensitiwiteit is vir haar ’n prioriteit. “Ek wil hê elke leerder moet hul plekkie vind by JF,” verduidelik sy. “Ek sal almal aanmoedig om by die aktiwiteite betrokke te raak.” Sy beklemtoon ook die belangrikheid van integriteit as ’n tradisie. Sy wil dit graag behou, omdat dit eerlikheid en lewenslange waarde verteenwoordig.
Wanneer sy vrae beantwoord oor waarom leerders Hoërskool Jim Fouché moet oorweeg, is haar antwoord duidelik. “Hier is werklik plek vir almal – of dit akademie, kultuur, sport, leierskap of geheelmensontwikkeling is. Ons onderwysers is toegewyd en passievol, en hul liefde vir onderwys laat enigiemand tuis voel.”
“Baie dankie vir jou waardevolle bydrae, Ansje” – Schools That Rock
Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








