Dink of Sink – Merensky Landbou Akademie het op Vrydag, 5 September hul kultuurskoene aangetrek.
Die atmosfeer was elektries, die spanning tasbaar, en die woorde vlugter as ooit. Plasieland het saam met ander top skole in Limpopo die debatverhoog betree. Hulle het deelgeneem aan die streekuitdunne van AfriForum se gewilde Dink of Sink kompetisie.
Hier is dit nie net praat wat tel nie. Dis denk teen tyd, redeneer met presisie, en sink of swem in die hitte van ’n impromptu debat. Toeskouers het letterlik op die punte van hul stoele gesit. Junior- en seniordebatspanne van Hoërskole Ben Vorster, Louis Trichardt, Pietersburg, Frikkie Meyer en Merensky het mekaar die stryd aangesê.
Plasieland se juniors vaar vorentoe in Dink of Sink
Die juniorspan van Plasieland was verteenwoordig deur Ilana Lubbe, Miané van Veelen en Milan Ferreira. Hulle het hul stemme en verstande meesterlik gebruik en as wenners uit die stryd getree. Ben Vorster se juniorspan het ook sterk vertoon en die naaswennerplek ingepalm.
Seniors wys hul staal in Dink of Sink
In die seniorafdeling het Eddie Mostert, Jean de Wet en Luzaan Erasmus hul debatspiere gebult. Ná ’n intense rondte teen Frikkie Meyer verower hulle die wenbeker. Die seniors moes hul standpunt verdedig oor die stelling: “Tegnologiese betaaltoepassings moet kontant- en kaartbetalings vervang.” Die juniors het hul mening gevorm oor: “Moedertaalonderrig behoort ’n prioriteit in skole te wees.”
Vyf minute. Een kans. Geen draaiboek.
Met net vyf minute voorbereidingstyd en ’n sewe minute kruisverhoor ná elke spreker se beurt, is dit duidelik: dié kompetisie is nie vir bang praatjies nie. Hier word redenaars se denkvermoë en aanpasbaarheid tot die uiterste beproef.
Op pad na die nasionale verhoog
Plasieland se juniorspan sal Limpopo verteenwoordig by die Nasionale Finaal op 27 September 2025 in Centurion. Daar sal skole van regoor die land meeding om die nasionale debatbeker huis toe te neem.

Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s voorsien
Become a Sponsor








