Wilge Teater. Op Woensdag, 27 September, het musiekklanke en engelstemme die lug gevul in die Wilge Teater., Pretoria. Hoërskool Die Wilgers se eie koor het hul buiging gemaak en die gehoor met hul pragtige sang vermaak.
Onder die bekwame leiding van Ruan Odendaal het Die Wilgers se koorlede koorsang by Hoërskool Die Wilgers laat herleef. Die koorlede se entoesiasme en toegewydheid verdien beslis ’n pluimpie. Die koor is begelei deur die bekende ‘The Sound Collective’ ensemble wat verdere luister aan die aand verleen het. Pierre van der Merwe het ook beïndruk met sy pragtige solo in ‘Homeward bound’.
Die kore van Laerskool Pretoria-Oos, onder leiding van Elana Neethling en Laerskool Tygerpoort, onder leiding van Ruan Odendaal, was Die Wilgers se gaskore by die Wilge Teater. Beide kore se items was afgerond, musikaal en prettig. Dit was inspirerend en vermaaklik om dié jong leerders te sien optree.
Die marimba ensemble van Laerskool Pretoria-Oos het vooraf die gaste buite die teater met hul tradisionele klanke, wat ’n warm atmosfeer geskep het, geboei.
Plato het beweer dat musiek mense saambind; siel aan die heelal gee – Wilgie Koorfees 2023 was beslis ’n aand van saamsing, goedvoel en diepe lekkerkry. Sielskos.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s: Annalien Venter