Wêreldbeker krieket – Hoërskool Die Wilgers het nog ‘n “Ellis” leerder wat golwe in die sportwêreld maak.
Die naam “Ellis” begin al hoe meer sinoniem raak met uitmuntende sportprestasie. Hierdie keer is dit die talentvolle Abigail Ellis wat kragte wys! Dié graad 11-leerder van Hoërskool Die Wilgers het tydens die skoolvakansie haar merk gemaak in die sportwêreld. Sy is uitgenooi om deel te neem aan die proewe vir die o/19-Suid-Afrikaanse Dames Wêreldbeker Krieketspan. Wat ’n ongelooflike eer én prestasie!
Van Steggie tot Sterspeler
Reeds in graad 8 het Abigail, toe nog ’n “Steggie,” die kollig begin vang met haar indrukwekkende spel en natuurlike aanvoeling vir krieket. Haar toetrede tot die Wilgie-span was maar net die begin van ‘n opwindende reis vol toegewydheid, slypwerk en ongelooflike talent. Vandag is sy nie net ’n gevestigde speler vir Die Wilgers nie, maar ook ’n trotse lid van die Titans — ’n krieketspan wat self bekend is vir hul hoë standaarde.
Die vrugte van harde werk
Abigail se pad na die Wêreldbeker krieket proewe was alles behalwe toevallig. Dit is die resultaat van jare se oefeninge, toewyding, en ’n liefde vir die spel wat haar gedryf het om altyd haar beste te gee. Sy beliggaam die gees van Wilgie-sport: vasberade, energiek en altyd ’n spanmaat waarop jy kan staatmaak.
Die “Wilgie-Express” vat spoed!
Hoërskool Die Wilgers hou duimvas vir hulle eie “Wilgie-Express” vir wanneer die finale span aangekondig word. Die krieketwêreld gaan haar verseker dophou. As haar vorige spel enige aanduiding is, gaan daar beslis nóg groot dinge van haar kant kom.
Familie van kampioene
Die Ellis-familie se naam is nie net bekend binne die skoolmure nie, dit weerklink nou in sportkringe oor die land heen. ’n Familie wat nie net sport leef nie, maar dit uitleef met passie en ywer.
Lees meer skolesport hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








