Die wintersportspanne van Hoërskool Nelspruit het op 10 Maart 2018 teen EG Jansen kragte gemeet in die eerste ronde van die Tuks-Skolereeks wat op die teenstanders se velde plaasgevind het.
Dit was ‘n klipharde stryd vir NHS se eerste rugbyspan wat uiteindelik 40-15 die knie moes buig. Die derdes en o/15B-spanne kon beide wel wenne op die puntebord aanteken.
Op die netbalbane kon NHS daarin slaag om 7 uit die 9 wedstryde oortuigend in te palm. Die eerste span kan opreg trots wees met hul eindtelling van 35-19 in NHS se guns. Die 0/17A en o/14A’s het ook uitgeblink met wegholoorwinnings van onderskeidelik 41-4 en 30-8.
Die dogtershokkiespanne het in 3 uit 7 wedstryde oorwinnings aangeteken en twee gelykopgespeel. In die eerstespanwedstryd was EG Jansen die enigstes om ‘n doel aan te teken. Die o/16A en B-spanne kon hul teenstanders 5-0 en 2-0 laat les opsê.
NHS se seunshokkiespanne het nie teleurgestel met 2 uit 2 wenne van 7-0 elk nie.
Die Nellies is weer terug op die oefenveld ter voorbereiding van Saterdag se tuiswedstryd teen Menlopark in die Tuks-reeds. Wedstryde begin reeds 08:00. Toeskouers welkom.