Hoërskool Nelspruit se Rhino Rugby was Dinsdag 13 Maart 2018 gasheer vir die Nashua Rugby Skills Project in samewerking met ShadowBall en Springbok-rugbyspeler Conrad Jantjes.
Twee skole, Letsakutfula Primary en Sehlulile Primary se o/13’s tesame met NHS se o/14-rugbyspan is die geleentheid gegee om hul rugbyvernuf op te skerp onder leiding van die ShadowBall-span en natuurlik skouers te skuur met Conrad Jantjes.
Die Nashua Rugby Skills Project poog om ‘n positiewe bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby te maak. Nashua is ook ‘n borg van die Curriebeker en neem hul betrokkenheid by rugby nog verder met dié projek. Dit fokus veral op balwerk op skole-vlak met behulp van ShadowBall en skole van reg oor die land word besoek.
ShadowBall is ‘n innoverende “rebound” rugbybal wat die speler toelaat om op sy eie te oefen, enige tyd en enige plek. Hierdie eiesoortige inisiatief kan akkuraatheid by die aangee van balle met tot soveel as 266% in vier weke verbeter. Hierdie bal is geskik om spelers van enige ouderdom se rugbyvaardighede te ontwikkel.