SchoolsThat Rock vra ‘n paar vrae aan Karla Bruwer, Hoofdogter van Hoërskool Robertson.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Die virus het beslis ‘n groot inpak op ons land se mense en ons ekonomie en veral op die mense wat minder bevoorreg is. As ek net kyk hoe baie mense in Robertson reeds swaar kry kan ek my net indink hoe sleg dit landwyd gaan.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Ja ek dink dit gaan ’n invloed hê. Kinders wat op datum bly sal nie probleme hê en sukkel vorentoe nie, maar die skole wie se kinders nie toegang tot tegnologie het nie en agter raak, gaan baie sukkel volgende jaar. Daar gaan verskriklik baie druk op kinders en onderwysers geplaas word volgende jaar as die werk wat hulle nie dié jaar klaar maak nie, volgende jaar behandel moet word.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
My doelwit is om vir my eindeksamen goed te doen en om vir almal te wys dat as jy deursettingsvermoë het en hardwerkend is enige iets moontlik is. Met so baie sport en sosiale aktiwiteite wat nie meer toegelaat gaan word nie gaan ons baie ekstra ure hê om te leer.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek wil graag BEd intermediêre Fase onderwys by Stellenbosch gaan studeer.
Een goeie ding van die virus, is dat dit ons kinders leer om gedissiplineerd te wees en om elke dag te besef hoe bevoorreg ons is dat ons kos het om te eet, ‘n stil plek in die huis het waar ons huiswerk kan doen en toegang het tot tegnologie. Dit moet verskriklik wees om elke oggend onseker te wees of jy gaan kos hê om te eet en jou huiswerk in ‘n klein spasie te doen waar daar nie stilte is nie.
Hierdie tyd leer vir ons om die klein goed in die lewe raak te sien. Om die dinge te waardeer waarvoor ons nooit tyd kry in ons besige kwartaal nie. Ons raak dalk nie “skoolslim” in hierdie tyd nie, maar verander ons uitkyk oor die lewe wat ons baie gaan help na skool.