Henco Stofberg en afrigter Christiaan Theron
Op Saterdag, 23 Februarie, het die kaptein van Hoërskool Strand se eerste krieketspan, Henco Stofberg, en Guillaume Jansen ‘n besondere mylpaal behaal deur in hulle vyftigste wedstryd vir die eerste krieketspan te speel. Hierdie mylpaal is vir min krieketspelers beskore.
Vroeër die week het die Strand naelskraap met 29 lopies teen die hoogaangeskrewe span van Somerset College verloor. Hierdie wedstryd moes in die week afgehandel word omdat Somerset College in die kwarteindstryd van die 20/20-kompetisie teen Paul Roos Gimnasium moes speel.
Gevolglik moes Hoërskool Strand toe Saterdag teen Somerset College se tweede span gespeel. Die Strand het ‘n indrukwekkende 260 lopies vir die verlies van 5 paaltjies opgestapel. Henco Stofberg het in sy vyftigste wedstryd ‘n briljante 151 lopies nie uit nie aangeteken. In die proses het hy 9 sesse en 10 viere geslaan. Vir enige skoolseun is dit ‘n droom om in sy vytigste wedstryd so te presteer.
Guillaume Jansen het in Somerset College se kolfbeurt skitterend geboul en 2 paaltjies vir 19 lopies platgetrek voordat reën die dag se spel kortgeknip het. Jaylone Lombard het hom goed ondersteun en 2 paaltjies vir 13 lopies platgetrek. Toe die reën ingryp, het Somerset College op 33 lopies vir die verlies van 4 paaltjies gesteier. Die wedstryd het dus ongelukkig onbeslis geëindig.
Dit was ‘n voorreg om hierdie twee spelers in hulle vyftigste wedstryd te sien presteer. Dit is wat skolekrieket so fassinerend maak.