Hoërskool Strand se nuwelinge
Die toutrekkompetisie, wat die afgelope Saterdag deur die Bellville Leeus by Hoërskool Monument Park aangebied is, het skittervertonings deur verskeie spanne van Hoërskool Strand opgedis!
Sommer vroeg-vroeg het die 560kg seuns en 520kg gemengde spanne albei eerste plekke behaal sonder om ‘n enkele trek af te staan. Hulle krag, ervaring en geduld het vrugte afgewerp toe hul bykans foutlose vertonings gelewer het. Beide hierdie spanne is nou Hoërskool Strand se groot hoop om aanstaande Saterdag as WP-kampioene gekroon te word!
Ook die meisie- 440kg en 480kg-spanne het uitstekend gedoen met veral laasgenoemde wat harde vertonings gelewer het om ‘n welverdiende tweede plek te behaal. Van hierdie jong spanne gaan daar nog baie in die volgende jaar of drie gehoor word.
Wat verblydend is, is die feit dat verskeie graad 8-trekkers aan hul eerste kompetisie deelgeneem het en hulself goed van hul taak gekwyt het. Indien die Arende jaarliks toutrek-atlete van hierdie kaliber kan kry, gaan min ander klubs/skole hul kan keer.
Nog twee toutrek-atlete is tot die elite Legend 30 groep gevoeg. Zounica van der Merwe en Ewan Willemse is vir vir hul jarelange diens aan die Hoërskool Strand se toutrekspanne vereer. Hierdie erkenning dien as aansporing vir die jonger atlete en afrigters om aan te hou met toutrek totdat hul ook vir Hoërskool Strand by ten minste 30 kompetisies verteenwoordig het!
Met die WP/ Wynland Junior Toutrekkampioenskap, wat volgende Saterdag plaasvind, gaan die Arend-toutrekkers hard oefen om hul nog sterker en skerper te maak ten einde die Helderberg trots te maak. “Elke oefening tel, elke druppel sweet is die moete werd en elke seer spier maak ons sterker!”
Toutrek is ‘n belewenis!
Riaan Nowers
Become a Sponsor













