Junior Boerbokkursus. Augsburg Landbougimnasium, Clanwilliam, het vanaf 26 tot 27 Mei ‘n junior boerbokkursus aangebied. Die kursus is aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Boerbokklub.
Hierdie was een van die grootste junior boerbokkursusse, tot dusver bekend, wat deur hierdie twee instansies aangebied is. Die gr.10 Landboubestuurspraktyke-leerders woon dit verpligtend by as deel van hulle praktiese opleiding.
Bokboere van die publiek het ook die kursus bygewoon. Van die boere het van plekke so ver as Beaufort-Wes en Kaapstad af gekom om meer van die boerbok se rasstandaarde en fenotipiese beoordeling te leer. Beoordeling was gedoen op uitstekende boerbok-genetika. Diere van Tekoa Boerbokstoet, Biedouw Boerbokstoet, sowel as Augburg se eie boerbokstoetooie is gebruik as kursusmateriaal.
Mnre Joubert van der Merwe en Andries Volgraaf het die junior-kursus aangebied.Augsburg stel sekere kursusse en inligtingsessies ook oop vir plaaslike boere, om `n diens aan die gemeenskap te lewer en die beste boerdery praktyke en opleiding te bevorder.
Augsburg hou duimvas dat almal die kursus met `n bokspring sal slaag!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za