
Hoofseun 2025. Soos in die verlede, gesels Schools That Rock weer vanjaar met die Hoofleiers van Hoërskole in Suid-Afrika. Vandag kom Connen Mouton, Hoofseun 2025 van Augsburg Landbougimnasium in Clanwilliam aan die beurt.
“Waarna ek die meeste uitsien as Hoofseun 2025 van Augsburg Landbougimnasium, is die geleenthede om samewerking en groei binne die skool te bevorder. Ek wil ‘n omgewing skep waar elke persoon voel hulle dra by tot die skool se sukses.
My persoonlike doelwitte vir die jaar is om van die skool ‘n beter plek te maak en ook weer trots terug bring in die skool. Ek wil ook respek bevorder tussen onderwysers en leerders.
Eienskappe van Augsburg Landbougimnasium
Die eienskappe van Augsburg Landbougimnasium wat vir my die meeste uitstaan, is dat ons nooit opgee nie en altyd bly veg tot die einde.
Aanpassings wat ek graag wil sien, is dat die skool nuwe idees begin kweek. Ek voel ons skool sukkel om aan te pas by sekere dinge soos bv. dat musiek-instrumente nie toegelaat word by sport-byeenkomste nie. Ek dink die skool moet ook nie almal voor die voet aanvaar nie. Van die kinders wat inkom van ander plekke het nie trots vir die skool nie en hulle neem ook aan niks deel nie.
Augsburg Landbougimnasium is ‘n baie dinamiese skool. Daarom is dit maklik om iemand te oorred om ons skool die skool van hul keuse te maak. Ons kompeteer ook goed op die sportveld en ons ontvang ook hoë gehalte afrigting. Ons onderwysers bied ook briljante onderrig aan en sal altyd tyd maak vir die leerders. Hulle is ook goeie mentors vir al die leerders.
Sterkste leiers-eienskap
My sterkste leiers-eienskap is hardwerkendheid. Ek het ook die wilskrag om struikelblokke te oorkom. Verder het ek ook die dissipline om elke dag die dinge te doen wat ek moet doen.
Ek ontvang samewerking (commitment) van my span deurdat ek na almal se idees luister en dit respekteer. Ek kry ook hul insette oor sekere take.
Die persone na wie ek opsien in die lewe is Dan Carter en Virat Kholi. Hulle is manne wat hard gewerk het om te kom waar hulle vandag is, al was dit nie altyd maklik nie.
Ek dagdroom dikwels oor hoe ek myself kan verbeter in elke aspek van die lewe.
My gunsteling geregte is pasta en steak!
Ek sal graag na skool onderwys wil studeer en ook sportafrigting doen. Ek wil ook graag by enige van die volgende inrigtings studeer: wits/tuks/pukke/UWC/CPUT of Maties.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor