Hoofdogter 2025. Die afgelope aantal jare het Schools That Rock onderhoude gepubliseer van Hoofleiers afkomstig van verskeie hoërskole in Suid-Afrika. Hierdie jaar maak ons weer so en vandag gesels ons met Ininke Human, Hoofdogter 2025 van Die Hoërskool Menlopark.
“Waarna ek, as hoofdogter 2025, die meeste uitsien, is om hande te kan vat met die skoolhoof, personeel en die leerders van die skool. Ek sal werklik na die belange van die leerders omsien. Sodoende wil ek ‘n verskil maak, nie net vir huidige Menloparkers nie, maar ook vir die volgende generasies. Dis ‘n voorreg om die skool en leerders te kan dien!
My persoonlike doelwitte is om gedurende die jaar daadwerklik die Here as middelpunt en anker te gebruik. Ek wil elke besluit wat ek neem baseer op Sy wil en plan. Ek sal Hom ook verheerlik in alles wat ek aanpak.
My persoonlike doelwitte vir my skool in my leierskapjaar is om eenheid en betrokkenheid te bevorder. Ek wil gtaag ook leiers kweek in almal. Ek wil dan wegstap met die wete dat ek my alles en nog meer gegee het vir die leerders.
Eienskappe van Die Hoërskool Menlopark
Die eienskappe van Die Hoërskool Menlopark wat vir my die meeste uitstaan, is die passievolle personeel. Hulle is die hart van die skool. Dan ook die leerders, ons skool se dryf en ons indrukwekkende skoolterrein.
Daar is nie enige veranderinge wat ek by die skool wil sien gebeur nie, behalwe goedkoper snoepie-pryse!
Ek sal niemand probeer oorreed om Menlopark hul skool van keuse te maak nie. Ek sal hulle eerder aanmoedig om vir hulself te kom kyk. Daar is regtig ‘n plek vir almal by Menlopark!
My sterkste leiers-eienskap is my passie saam met my dryf.
Deur te lei as voorbeeld en nie net te delegeer nie, kry ek samewerking van my span.
Die persoon na wie ek opsien is my pa, want hy is die hardwerkendste persoon wie ek ken.
Waaroor ek dagdroom? Ek dagdroom té gereeld oor ‘n Top Deck sjokolade.
My gunsteling gereg? Ek is mal oor Sushi (as dit hopenlik tel as een).
Ek is nog onseker oor watter loopbaan ek wil volg, maar vir seker wil ek by Stellenbosch Universiteit studeer.”
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








