Die afgelope Saterdag het Hoërskool Strand vyf toutrekkers vereer met spesiale keppies waarop “Toutrek Legend 30” staan.
Wat is ‘n “legend”? Dit is nié die trekker wat noodwendig die beste trek of die beste tegniek het nie, maar eerder die toutrek-atleet wat lojaal teenoor sy skool is, wat altyd betyds is, wat ‘n voorbeeld vir ander stel en wat ook as mentor vir nuwelinge optree. Daar ia dus besluit om alle toutrek-atlete, wat aan 30 of meer kompetisies vir Hoërskool Strand deelgeneem het, met hierdie spesiale toekennings te vereer. Dit kan slegs vermag word in ‘n trekker se vierde jaar van deelname – wat hierdie keppie beslis moeilik maak om te ontvang. Dit dien as aansporing vir die jonger trekkers om lojaal teenoor hul skool en sport te wees en om aan te hou met toutrek as sport!
In snikhete hitte, wat by die 35 grade gedraai het, het 192 spanne deelgeneem aan ‘n kompetisie wat in die Paarl plaasgevind het. Soos gewoonlik het Strand se gemengde 520kg-span pragtige toutrek opgedis en ‘n welverdiende derde plek verower tussen al die WP- en Wynlandspanne. So ook, het die 480kg meisies klipharde toutrek opgedis en ook ‘n goeie derde plek behaal. Die verrassing van die dag was Strand se 560 kg-span wat uitstekend getrek het en ‘n vierde plek verower het Hierdie is ‘n span wat in die komende provinsiale kompetisie dopgehou moet word.
Een van die hoogtepunte van die dag was toe Hoërskool Strand genader is om ‘n 400kg-span van Breërivierklub te help met trekkers. Sommer gou het hierdie span in almal se harte gekruip en is hul “Strandrivier” gedoop. Hierdie span lewer toe ‘n verrassing op en hulle maak skoonskip en verloor nie ‘n enkele trek nie!
Met inisiatiewe soos die “Legende”-klub, uitstekende afrigting en die talle jonger leerders wat onlangs aangesluit het, sien Arend-toutrek daarna uit om jaarliks sterker en sterker te word en om in die toekoms ‘n krag in WP/ Wynland-toutrek te word!
Berig deur Riaan Nowers