0.14 Krieketspan
Voor vlnr: Nathan Drotskie, Darren Dramat, Sherwin April, Jamie Jacobs en Tyron Nicholas.
Agter vlnr: LW Coetzee, Janu Fouché, Selwyn Ortell, Marais Westraat, Lee-Hogan Gordon en Ethan Leonard.
Afwesig op foto: Canzius Erwee.
Die seisoen van 2019/ 20 het letterlik op ‘n warm noot geëindig. Die hittegolf wat die Boland getref het, het speeltoestande aansienlik bemoeilik.
Tog is twee baie interessante wedstryde afgehandel. Die eerste span het naelskraap met 9 lopies teen die hoogaangeskrewe Boland Landbou verloor. Dit was ‘n wedstryd wat die heeltyd wipplank gery het. Henco Stofberg het vir oulaas met 39 lopies uitgeblink en Guillaume Jansen het absoluut briljant geboul en 3 paaltjies vir 9 lopies platgetrek.
Hierdie twee staatmakers, wat albei meer as 50 wedstryde vir die eerste span gespeel het, sal baie gemis word.
Die O/14A-span het verrassend met 10 paaltjies teen Hermanus gewen. Vir jare probeer die eerste span Hermanus klop, maar sonder sukses. Nou wys die juniors hoe dit gedoen moet word. Hermanus is op hulle tuisveld vir ‘n skamele 52 lopies uitgeboul. Nathan Drotskie was briljant en het 4 paaltjies vir 7 lopies platgetrek. Strand het hierdie telling sonder die verlies van ‘n paaltjie verbygesteek. ‘n Aanvangsvennootskap van meer as 50 lopies is al klaar ‘n groot prestasie!
Alle eer aan al die spelers en afrigters wat die hitte die afgelope seisoen getrotseer het en uitstekende krieket gespeel het. Die seisoen het talle hoogtepunte opgelewer waarop die skool met reg trots kan wees.