Vrydag, 28 Februarie. Eerste pouse. Hoërskool Strand. DIE EERSTE DOMINO-KRAGMETING!!
Dit het gedreun en gedruis, daar is geklap op die tafels en gekraai van die lag toe die eerste kragmeting Vrydag plaasgevind het. As gevolg van die onaangename wind moes die eerste kragmeting in K 116 plaasvind – waar die geluide redelik oorverdowend was, maar geoordeel aan die rumoer, gelag en gepraat en menige “high fives” tussen die spelers, was dit groot pret.
Sestien spanne het deelgeneem – met Charl Morkel, wat aan die stuur van sake was om elkeen se speelbeurt te bepaal en tellings neergeskryf het. Dit was opvallend dat die deelnemers meestal graad 12’s en graad 8’s was – en dat die meisies van die ywerigste spelers is.
Daar word beplan om hierdie kompetisie tydens elke Vrydag se eerste pouse aan te bied – hopelik volgende keer in die buitelug, waar toeskouers ook kan deel in die pret!