Hoërskool Cradock se eerste rugbyspan het van 27-30 April 2018 ‘n toer onderneem na Oudtshoorn, waar hulle deelgeneem het aan die Klein Karoo Toernooi.
Spanne van Schoonspruit, Struisies, Duinevelt, Oos Moot en HTS Middelburg het ook deelgeneem aan hierdie toernooi. CHS het Saterdag, 28 April gespeel teen die span van Schoonspruit, wat tans op goeie vorm is. Teen halftyd is die telling 12 – 0 in Schoonspruit se guns. CHS kom egter sterk terug in die tweede helfte en teken 17 punte aan. Raymond Tom, Siphe Nofukuka en Brian Pentz was hier die uitblinkers. Raymond Tom het ook sy eie drie verdoel. Met slegs enkele sekondes op die horlosie druk Schoonspruit ‘n onverwagte drie en verdoel die skop om die wedstryd 19 – 17 te wen.
Die Kwaggas het ook te staan gekom teen die toernooi-aanbeiders, Hoërskool Oudsthoorn, se Struisies. ‘n Baie fisiese spel word gespeel met beide spanne wat hard spook om punte op die bord te kry. Teen halftyd loop Oudtshoorn 8-3 voor met slegs Ryan Gowar wat die vir Kwaggas punte kon aanteken met ‘n puik strafskop. In die tweede helfte bly Oudtshoorn op die aanval en teken weer punte aan. Cradock antwoord hierop met goeie maalbewegings deur die voorry wat lei tot ‘n puik drie deur Raymond Tom. Delaré Schoeman breek deur vir ‘n tweede drie, wat later as strafdrie omgekeer word en CHS verloor hierdie kragmeting 21-15.
Vir ontspanning na ‘n naweek se harde rugby het die groep besoek afgelê by die Kango-grotte. Hier het hulle saam deur al die hindernisse gegaan en ook die voorreg gehad om die CHS Skoollied in die grot se ouditorium te sing.
Dankie aan mnre. L. Steenkamp, J.R Foreman en M. van Jaarsveld wat die span vergesel het. Ons glo dat die ervaring wat hierdie span opgedoen het goed toegepas sal word in die komende seisoen.
Op die foto bo:
Hoërskool Cradock se eerste rugbyspan lê besoek af by die Kango-grotte tydens ‘n onlangse toer na Oudtshoorn.
Become a Sponsor









