Schools That Rock vra ‘n paar vrae aan Lydia-Mari Erasmus, Hoofdogter van Hoërskool Jan van Riebeeck, Kaapstad.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Ek sien die invloed van hierdie wêreldwye pandemie as grootliks negatief op ons land. Ons land was reeds nie in ‘n baie goeie ekonomiese toestand voor die uitbraak van Covid-19 nie, dus sal die land vir ‘n tydperk nog verder agteruit gaan. Die werkloosheidskoers in hierdie tydperk is besig om drasties te styg en die inwoners van ons land verloor ‘n groot hoeveelheid inkomstes as gevolg hiervan. Covid-19 bring ‘n situasie na vore wat ons nog nooit beleef het nie. Aan die positiewe kant van hierdie pandemie, kan ek egter sê dat ek glo hierdie is ‘n gebeurtenis wat ons ekonomie in staat stel om te herstruktureer en om sterker fondasies te lê as in die verlede. Ons sal ook vertroue moet hê in die mense wat ons land se belange te volle op die hart dra.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Hierdie pandemie wat uitgebreek het, gaan beslis ‘n invloed hê op die manier van onderwys in die toekoms. Daar is nou ‘n geleentheid geskep vir leerders en ouers wat nog altyd na tuisonderrig as ‘n opsie gekyk het, maar nooit die kans wou vat om te kyk of hulle op die manier sou reg kom nie. Gesinne kan in hierdie tydperk nou sien of hulle reg kan kom deur gebruik te maak van tuisonderrig. Ek dink dit sal ‘n groot invloed hê op die getalle wat in die toekoms onderrig in skole gaan ontvang. Ek dink die leerders wat nou in lae grade is en onderrig in hierdie tydperk doeltreffend kon aflê, sal moontlik oorskakel na tuisonderrig, al heropen die skole weer. Ek kan ook sien dat skole onderwys op ‘n ander manier sal aanpak. Baie skole is in hierdie tydperk verplig om tegnologie as deel van hul onderwys metode te maak. Daar is nou reeds werkende platforms geskep en ek glo dat baie skole sal aanhou om hierdie platforms in die toekoms te gebruik. Ek kan klaar getuig dat my skool, Hoërskool Jan van Riebeeck, op hierdie wyse die toekoms gaan aanpak. Ons waarnemende skoolhoof, Juffrou Lizette Visser, het reeds hierdie geleentheid raak gesien en het bekend gemaak dat die platform, wat hulle in so ‘n kort tydperk geskep het, beslis in die toekoms tot ons voordeel gebruik gaan word.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Al is ek by die huis, is ek steeds hard aan die werk aan my voortgesette doelwitte vir die einde van die jaar. Ek sit elke dag die nodige ure in en voltooi die opdragte wat deur my onderwysers aan my gestuur is. Ek probeer elke dag verryking doen in elke vak, sodat ek daardie ekstra inligting wat my onderwyser aan my sou verskaf in die klas, steeds kan kry. Dit is dinge wat nie altyd in die handboek staan nie. Ek vind dit tot ‘n mate maklik om in hierdie tydperk, tyd aan my skoolwerk te spandeer. Ek is iemand wat van verandering hou en om daagliks by die huis skool te gaan is op die oomblik lekker. Ek geniet dit om elke oggend op te staan en voor my rekenaar te gaan sit en skoolwerk te doen. Ek sien dit as ‘n geleentheid om vaardighede op ‘n nuwe manier op te doen. Daar is egter ‘n paar dae waar my motiveringsvlak laer is as ander. Op dae soos hierdie, vra ek my vriende of ons saam skoolwerk kan doen. Ons maak dan gebruik van ‘n platform waar ons met mekaar kan praat en mekaar aanspreeklik kan hou om skoolwerk agter die rug te kry. Ons praat of werk nie noodwendig saam deur die gegewe opdragte nie. Ons is net bewus dat daar iemand is wat saam met jou in hierdie tydperk ook by hul huis sit en skoolwerk doen. Dit maak die moeilike dae ‘n bietjie makliker en skep bietjie motivering. Om my doelwitte rondom sport te realiseer, oefen ek daagliks. Ek is bevoorreg om toerusting te hê wat my toelaat om my netbalvaardighede en fiksheidsvlakke op standaard te hou.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
My plan van aksie is om die tegnologie industrie te betree. Ek wil as SCRUM Master begin en dan myself opwerk na ‘n Projek Bestuurder in hierdie spesifieke industrie. Om hierdie plan in werking te stel is ek reeds besig om aan die agtergrond te bou en beoog om aan die einde van hierdie jaar ‘n kursus te voltooi en as gesertifiseerde SCRUM Master beskou te word. Dit sal my toelaat om volgende jaar aansoek te doen vir ‘n werk en dan moontlik myself daarvan af op te werk en my kennis te verbreed.