Wes-Kaap Jeugskoukampioenskap. Die Wes-Kaapse Jeugskouvereniging het die Wes-Kaap Jeugskoukampioenskap by Augsburg Landbougimnasium op Clanwilliam aangebied. Altesaam 81 leerders het aan die kampioenskap deelgeneem. Hulle was van Augsburg Landbougimnasium, Hoër Landbouskool Boland, Hoër Landbouskool Oakdale, La Montanara-privaatskool op Clanwilliam en Laerskool Volschenk in Riversdal.
Dit is gedoen om die jonger kinders se belangstelling in jeugskoue, ná ʼn lang onderbreking weens Covid-19, te prikkel. Met dié kampioenskap is nuwe deelnemers gewerf en touwys gemaak, terwyl ook seker gemaak is dat vorige deelnemers by die geleentheid betrokke bly.