Op Woensdag 11 April 2018, het deelnemers in die jaarlikse Theron du Plessis Mnr. & Mej. CHS kompetisie die planke betree om die gehoor te vermaak en sake uit te spook vir díe gesogte titels.
Tydens ‘n spoggeleentheid in die AB du Toitsaal, van Cradock Laerskool, is gaste begroet met ‘n mistieke “Frozen fairytale”-tema wat duidelik te sien was van die décor tot die slim versiering van die geurige aandete.
Altesaam drie en twintig matrikulante van Hoërskool Cradock het deelgeneem aan die kompetsie en reeds tydens ‘n vroeëre geleentheid by die Victoria Hotel kennis gemaak met die beoordeelaars.
Jan van Heerden, Nicola Jordaan en Raven Nel, almal bekende gesigte in Cradock, het die taak gehad om as beoordeelaars ‘n wenner aan te wys. En wat ‘n moeilike taak was dit nie. Afgesien van die matrikulante wat elk hul beste voetjie voorgesit het in die Informele- asook die Formele-rondtes is gaste ook vermaak deur die deelnemers van die heel eerste Theron du Plessis Mini Mr & Miss-kompetisie. Hierdie pragtige deelnemertjies is almal graad 3-leerders van Cradock Voorbereidingskool en het van dag een af met oorgawe en groot opgewondenheid hard geoefen om hul tydjie in die kollig so seepglad moontlik te laat verloop.
Ondanks al die voorbereidings, ure se pamperlang en asemrowende aandrokke en –pakke kan daar ongelukkig steeds net een wenner wees.
In die junior afdeling is verskeie pryse op die spel, van “Mooiste Glimlag” tot “Mnr. Spiere” en “Mej. Bene”. Die Persoonlikheidspryse gaan onderskeidelik aan PJ Nortjé en Ngako Mene. Janro Gerber en Ninke van Nuwenhuys word aangewys as tweede prins en prinses terwyl Thinus Janse van Rensburg en Alexi Booysen as naaswenners gekroon word. Die wenners van die heel eerste Theron du Plessis Mini Mr & Miss is Innis Marais en Mieke du Plessis.
In die seniorafdeling is die uitslae kop-aan-kop en tot in die laaste minuut is dit onduidelik wie met die louere gaan wegstap. Keezia Saptoe en Siya Caku-Caku word as Mej. En Mnr. Persoonlikheid aangewys. Die tweede prins en prinses van die kompetisie is Siphe Nofukuka en Houghlynne Swart, met Siya Caku-Caku en Jade-Lynn Jagers wat as eerste prins en prinses gekroon word. Die spanning is tasbaar soos deelnemers én die gehoor hul asems ophou vir die aankondiging van die 2018 Theron du Plessis Mnr. En Mej. CHS wenners. Na wat voel soos ‘n ewigheid, word Ryan Gowar en Zanelle Weitz se name uitgelees.
Oudergewoonte was hierdie aand ‘n groot sukses en CHS bedank graag elke deelnemer, ouer en borg wat dit vir ons moontlik gemaak het. ‘n Groot woord van dank gaan aan ons titelborg Theron du Plessis vir jul jarelange verbintenis met hierdie geleentheid en sonder wie niks hiervan kon plaasvind nie. CHS bedank graag elkeen wat hand bygesit en betrokke geraak het met die voorbereidings en ook die skoonmaak na die tyd. Baie geluk aan elkeen van die wenners, junior en senior, asook elke deelnemer wat die moed gehad het om die loopplank te betree. Julle is almal sterre!
Op die foto heel bo:
(Mini): Mieke du Plessis en Innis Marias, wenners van die eerste Theron du Plessis Mini Mr & Miss kompetisie, wat aangekondig is tydens ‘n spoggeleentheid in die AB du Toitsaal van CLS.
Foto onder:
(Snr): 2018 Theron du Plessis Mnr. & Mej. CHS wenners.
Agter vlnr: Jade-Lynn Jagers, Siya Caku-Caku (eerste prinses en prins); Jan van Heerden, Raven Nel, Nicola Jordaan (beoordeelaars); Houghlynne Swart, Siphe Nofukuka (tweede prinses en prins).
Voor: Zanelle Weitz, Mej. CHS vir 2018 en Ryan Gowar, Mnr. CHS 2018.











