Sportsterre. Hoërskool Die Wilgers, Pretoria, se merietetoekennings is onlangs gehou. Tydens die geleentheid is daar erkenning gegee aan elke Wilgie wat presteer het in 2023. Die toppresteerders op sportgebied, die Wilgie Sportsterre, is ook gedurende hierdie spoggeleentheid aangekondig. Die Wilgers is baie trots op al hul sportsterre
- Senior Sportdogter van die Jaar: Klara Wimmers
- Senior Sportseun van die Jaar: Caleb Klein
- Junior Sportdogter van die Jaar: Chenique van der Walt
- Junior Sportseun van die Jaar: Nico Klein
Senior Sportdogter 2023
Te midde van fel mededinging onder die dogters, styg Klara Wimmers uit en word vereer as Hoërskool Die Wilgers se Sportdogter van die Jaar, 2023.
Klara (graad 11) is ‘n toegewyde atleet van Hoërskool Die Wilgers. Tydens die atletiekseisoen het sy die 1500m aangepak. Terselfdertyd neem Klara ook aan die swem-interhoër deel. Hier verower sy twee silwer medaljes: een in die 50m vryslag en een saam met haar aflosspan. Klara verkry ook ‘n plek in die Eerste Netbalspan, bekend as die White Eagles. Sy en haar spanmaats sluit die seisoen onoorwonne af en word as ligawenners vir 2023 gekroon. Hulle kwalifiseer ook om by die Tshwane uitspele te gaan meeding. Daar het hulle teen skole soos Hoërskool Eldoraigne en Cornwall Hill gespeel.
Na afloop van die netbalseisoen word Klara verkies as ‘n spanlid en onderkaptein van die Eerste Sagtebalspan. Die span staan bekend as die White Lions. Haar vaardighede en harde werk vang die oë van die provinsiale sagtebalkeurders en sy word tot die 0/19-Kgodiso Tshwane Skole sagtebalspan verkies.
Klara is voorwaar ‘n sport-ambassadeur vir Hoërskool Die Wilgers en die skool sien daarna uit om haar tydens die 2024 sportseisoen dop te hou.
Senior Sportseun 2023
Die stryd tussen die sportmanne is altyd ‘n taai een en in die 2023 sportjaar is dit ook nie anders nie. Hoërskool Die Wilgers se Senior Sportseun van 2023 is Caleb Klein (graad 11).
Caleb se entoesiasme en doelgerigtheid dra by tot sy sukses. Hy pak die atletiekseisoen aan as ‘n spiesgooi-atleet en verower ‘n medalje by die Interhoër. Caleb word in die eerste rugbyspan, die White Sharks, opgeneem en hy maak met elke wedstryd ‘n groot impak. Die White Sharks sluit die seisoen af as die Blou Bulle Ligawenners en kwalifiseer om aan die Noordvaal-kompetisie deel te neem. Hulle dring deur tot die semifinaal waar hulle ongelukkig vasval.
Caleb vang die Blou Bulle-keurders se aandag en word tot die 0/17-Blou Bulle Span verkies. Dié span neem deel aan die VKB Reitz Provinsiale Rugbyweek. Hulle sluit hulle toer in 2023 sonder ‘n nederlaag af en word as die kampioene van die VKB Reitz Provinsiale rugbyweek gekroon.
Daarna speel Caleb (as kaptein) vir die 0/17-Sewes Rugbyspan, die White Cheetahs. Die span word uitgenooi om aan die Frogfoot 7’s-Kampioenetoernooi by Loftus Versfeld deel te neem.
Caleb is nie net ‘n rugbyman nie; hy bring ook sy kant by die krieket en hy speel ‘n wedstryd of twee vir die Eerste Krieketspan, die White Knights.
Harde werk is die sukses tot enige sportman se toekoms en die skool sien daarna uit dat hy in 2024 gaan voortbou op sy sukses en sy merk gaan laat in Hoërskool Die Wilgers se sportanale!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf