Sport- en kultuurprestasies. Hoërskool Langenhoven vier sport- en kultuurprestasies.
Hoërskool Langenhoven, Riversdal, is baie trots op ’n groep leerders wat onlangs hul merk gemaak het op provinsiale, nasionale en streeksvlak. Hierdie prestasies weerspieël nie net talent nie, maar ook toewyding, harde werk en die ondersteuning van die Hoërskool Langenhoven-familie.
🏑 Hokkie: Eden Hoëprestasie-spanne
Na sterk vertonings tydens die Eden-proewe is verskeie Langenhoven-spelers gekies vir die Eden Hoëprestasie Hokkiespanne van 2026:
- O.14 Dogters: Ayva Crotz, Jamie Adams
- O.14 Seuns: Zandre Janse van Rensburg, Ingwill Saayman
- O.16 Dogters: Anke Labuschagne, Zara Kleinhans
- O/18 Seuns: Bieu Mostert
Hierdie prestasie getuig van deursettingsvermoë en toewyding. Die skool wens die spelers sterkte toe vir die komende toernooie.
Redenaars: Radikale Redenaarskompetisie
Vier leerders het op 15 April aan die Radikale Redenaarskompetisie deelgeneem in die Afrikaanse spanredenaarsafdeling. Die span het met selfvertroue en redenaarsvernuf uitgestyg en is met ’n A-simbool bekroon. Die finale uitslae word op 24 Mei bekend gemaak.
👏 Baie geluk aan Liandri Lotter, Anna Janse van Rensburg, Izel Delport en Zoey Michaels – julle voorbereiding en passie is ’n inspirasie vir ander.

Muurbal: Prestasies by Growthpoint Eden Toernooi
Vier muurbalspelers van Dasse het op 10 April aan die Growthpoint Eden Muurbaltoernooi in Mosselbaai deelgeneem. Die spelers het kant gebring en sterk vertonings gelewer.
Uitslae behaal:
- Hanja Gildenhuys – O/15 Dogters: 3de plek
- Emma Gildenhuys – O/17 Dogters: 3de plek
- Geovani Pietersen – O/15 Seuns: 6de plek
- Codey Abrahams (Hy self is O/15) maar neem deel aan – O/17 Seuns: 2de plek
Twee van die muurbalspelers Hanja en Codey het ook op 18 April aan die SA top 16 Toernooi in Johannesburg deelgeneem en uitstekend gevaar.
Uitslae behaal:
• Hanja Gildenhuys – O/15 Dogters: 15de plek
• Codey Abrahams (O/15) maar neem deel aan O/17 Seuns: 12de plek
Die skool is trots op hierdie spelers se toewyding en sportmangees waarmee hulle Hoërskool Langenhoven verteenwoordig het.

Boogskiet: Nasionale titel vir Clarissa Steenekamp
Hoërskool Langenhoven is besonder trots op Clarissa Steenekamp. Sy het uitstekend presteer tydens die South African National Archery Championships. Dit het van 27 tot 29 Maart in Johannesburg plaasgevind.
Dit was Clarissa se eerste deelname aan ’n nasionale kampioenskap. Sy het ’n merkwaardige prestasie behaal deur die eerste plek te verower en as die Suid-Afrikaanse Onder-18 Compound Vroue Kampioen gekroon te word.
Clarissa het ook die Wes-Kaap verteenwoordig in die O.18 Compound Mixed Team, waar die span ’n goue medalje vir die provinsie verower het.
Hierdie prestasie getuig van Clarissa se talent, dissipline en volgehoue toewyding aan die sport.

Lees meer skolenuus hier: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto’s verskaf
Become a Sponsor









