Skeidsregter vir Hokkie Toernooi – Minka Steyn van Hoërskool Zwartkop fluit haar pad na sukses op nasionale vlak!
Minka Steyn, ’n dinamiese graad 10-leerling van Hoërskool Zwartkop, het dié week ’n merkwaardige prestasie behaal. Sy het opgetree as skeidsregter vir die Nasionale o.14 hokkie toernooi. Wat haar deelname besonders maak, is dat sy gekies is om die finaal vir posisie 1 en 2 te hanteer. ’n Reuse eer én bewys van haar uitmuntendheid agter die fluit.
Hierdie aanstelling is nie sommer net ’n eer nie. Dit is ’n bewys van Minka se vermoë om onder druk te presteer. Sy sal ook haar plek kan inneem tussen Suid-Afrika se top jong skeidsregters.
Die hokkieveld is nie altyd ’n maklike plek vir ’n jong skeidsregter nie. Minka het met selfvertroue, integriteit en haar skerp besluitneming die speeltempo tydens die hokkie toernooi beheer. Haar professionele houding en kennis van die reëls het haar onder die oë van nasionale beoordelaars onderskei. Haar vinnige reaksievermoë en kalm teenwoordigheid op die veld, is enige skeidsregter se droom.
Hoërskool Zwartkop is buitengewoon trots op haar prestasie. Haar toewyding en dissipline weerspieël die skool se waardes. Sy is ’n voorbeeld en inspirasie vir ander jong sportentoesiaste en ‘n bewys dat harde werk, dissipline en liefde vir die spel haar werklik kan laat uitblink. Dit wys ook dat daar ruimte is vir vroue om hul merk in sport te maak, nie net op die veld as spelers nie, maar ook as amptenare wat die spel vorm.
Minka se prestasie dien as ‘n groot opgewondenheid na wat die toekoms vir haar inhou!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto voorsien
Become a Sponsor








