Schools That Rock vra ‘n paar vrae aan Zander Raubenheimer, Hoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Die invloed van hierdie pandemie kan vir elke persoon anders wees: dit hang af uit watter oogpunt ‘n mens daarna kyk.
Die feit bly staan dat die invloed definitief negatief is. Ons land se ekonomie is stadig maar seker besig om te verdwyn saam met gister, en sekerlik een van die belangrikste punte, ons land se burgers het elkeen hul eie mening van hoe om die land te regeer wat opstoking veroorsaak. Dit veroorsaak verdeeldheid en skeiding tussen ‘n nasie wat op 2 November 2019 vir ‘n paar oomblikke nadat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het, as ‘n eenheid bestaan het. In dieselfde asem, en nadat ons na al die rou feite gekyk het, moet ons steeds positief bly. Dit is nou in hierdie tyd wanneer ons karakter moet wys en nou definitief meer as ooit.
In die lang duur het die Covid-19 virus te same met ‘n baie lang uitgestrekte imperking, of beter bekend as die “lockdown”, ‘n negatiewe impak op die land. Steeds moet ons probeer om elke korreltjie positiwiteit te laat uitstraal en die gewoontes wat ons nou aan geleer het (bv. gedurig hande was, die oefening in die oggende ens.) steeds toepas na die staat van imperking en deel maak van ons lewens.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Die een ding wat ons almal verkeerd kan doen in hierdie tyd, is om nie te leer van dit waardeur ons nou gaan nie, en volgende keer nie gereed te wees as so iets weer gebeur nie.
Op hierdie manier dink ek gaan skole nou al moet begin dink en definitiewe planne beraam om die oorskuif van kontak leer tot e-leer te vergemaklik. Om ook die oorskuif te vergemaklik, dink ek gaan skole hulle e-leer stelsels op so ‘n manier moet toepas dat dit net so effektief is soos kontak leer.
Op die einde van die dag, gaan skole, soos elke persoon, moet leer hoe om voorbereid te wees as so ‘n situasie weer na vore kan kom.
In die toekoms, dink ek, sal skole definitief anders kyk na onderwys. Meeste skole in ons land sal, saam met tyd, aanpas by tegnologie en meer gemoderniseer word, waar skole nie afwyk van hulle primêre vorm van leer nie, maar gereed sal wees vir dit wat kan kom.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
My doelwit van die begin van die jaar is om te matrikuleer met 8 A-gemiddeldes, en dit bly steeds my doelwit.
In hierdie tyd sal ons as skoliere buigbaar moet wees en kan aanpas met die manier van skoolgaan. Ons sal baie meer tyd moet spandeer aan ons skoolwerk en doodseker maak dat ons dié eerste twee kwartale se werk agter die rug het. Op hierdie manier, kan ons die rekord eksamen sien as ‘n “proeflopie” wat ons voorberei vir die eindeksamen.
Hoe ek hierdie tipe van skool gaan benader, is om net te sit, hard te werk, seker te maak ek verstaan die werk en vrae te vra daar waar ek kan. Om ou vraestelle uit te werk is definitief die goue sleutel tot goeie punte vir die eindeksamen.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Wat my toekoms behels is dat ek volgende jaar aan die Universiteit van Stellenbosch Data Ingenieurswese gaan swot. Ek beplan om my studies klaar te maak in 2024 en daarna vir ‘n paar jaar in Suid-Afrika werk ervaring op te doen.
Dit is vir my baie hartseer om te sê, en ek praat uit die oogpunt van ‘n trotse Suid-Afrikaner, en dit is dat nadat ek werk ervaring opgedoen het, dan oorsee te gaan na Amerika of Engeland en dan hopelik daar burgerskap te kry. My wortels sal vir altyd in Suid Afrika geplant wees.
Verder wil ek my loopbaan gebruik om soveel as moontlik te kan doen vir dit waarvoor die Here my op die aarde gesit het. Ek is nog nie heeltemaal seker wat Sy plan vir my is nie, maar ek probeer om elke dag in geloof te stap, en hopelik die Hemel vir ‘n paar mense ryker te maak.
Verdere kommentaar:
Ek wil graag vir al die lesers hierdie boodskap gee: moet nie tou opgooi nie!
Ons moet elke dag, soveel as moontlik die tyd benut wat nou vir ons gegee word by die huis om God te leer ken en ‘n persoonlike verhouding met hom te skep. Op hierdie manier, kan elke Suid-Afrikaner se doel op aarde vervul word en deur hierdie, kom Suid-Afrika elke dag nader aan ‘n suksesvolle nasie.
Bly veilig en spandeer tyd saam met ons wonderlike God!