Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Mela Botha, Onderhoofdogter van Hoër Meisieskool La Rochelle in Paarl.
Vraag: Waarna sien jy die meeste uit wanneer die 2021 skooljaar begin? Ek is nou al amper weer soos ‘n graad 1 wat nie kan wag om haar skoolrok aan te trek nie. Ek sien uit na die samesyn en sommer net die geesvang saam met my mede-matrieks. Die nuwe larries en graad 8’s maak my ook opgewonde en ek kan nie wag om hulle te ontmoet nie. Ek hoop ons kan binnekort weer almal saam ‘n saal- of ander byeenkomste hê.
Vraag: Is daar enige aanpassings/ veranderinge wat jy graag wou sien by jou skool? By La Rochelle is daar regtig baie verskillende aktiwiteite, komitees, sport- belangstellings en geleenthede. Ek sal daarvan hou as elke Larrie aan een of ander buitemuurse aktiwiteit kan deelneem. Ek dink ons moet deelname meer beklemtoon, want dit help om ‘n groepsgevoel te skep, maats te maak en dit maak ons ‘n sterker span.
Vraag: Indien jy iemand moet oorreed om jou skool hul keuse te maak, wat sal dit wees? Die eerste keer wat ek HMS La Rochelle besoek het, het ek gedink dit is die mooiste en ruimste skool in die Paarl. Hier is moderne en mooi sportfasiliteite en klaskamers. Jou akademiese-, sport-, of kultuur-drome kan hier waar word, as jy hard werk en jou laat lei deur die personeel of afrigters. Geleenthede is volop by La Rochelle! Die skool is groot genoeg om by enige ander skool te kan kersvashou, maar ook klein genoeg dat elke dogter kosbaar is. Hier ken almal mekaar en ons skoolhoof en personeel ken elke dogter by die naam. Hier sal jy nooit net ‘n nommer wees nie. Elke Larrie is belangrik. Ons streef om ons kern waardes: Liefde, Aanvaarding en Respek uit te leef. Ons moedig mekaar aan en ons gee om vir ons medemens.
Vraag: Wie is jou rolmodel by jou skool? La Rochelle het baie rolmodelle en veral sterk vroue rolmodelle. Ons skoolhoof, Me Amanda Lochner, omring haarself met personeel wat passievol, sterk, hardwerkend en slim is, net soos sy. Me Lochner is vir my ‘n rolmodel. Sy bewys elke dag dat vroue sterk en goeie leiers kan wees. Sy verander probleme in geleenthede en sy inspireer ons om uitdagings met moed aan te durf en ons drome na te jaag. Me Lochner lei met hart, siel en verstand.
Vraag: Watter sportsoort is jou gunsteling? Ek geniet skaak, tennis en netbal by die skool. Spansporte is altyd vir my lekker. Op die stadium is tennis vir my die lekkerste uitdaging en goeie oefening. Roomys na elke Maandag se liga-wedstryde saam met die span is natuurlik ‘n bonus.
Vraag: Wat is jou gunsteling gereg? My gunsteling gereg is verseker koshuis-lasagne. Voor ek met matriek klaarmaak, sal ek die resep moet kry!
Vraag: Watter loopbaan wil jy volg na skool? Ek wil graag eers ‘n prokureur en later ‘n regter word. In my vrye tyd skryf ek graag en sal ook my eie ‘blog’ wil hê.
Vraag: Na watter universiteit wil jy volgende jaar gaan? Universiteit van Stellenbosch. Ek wil graag ‘n Matie wees.
Vraag: Wat is jou boodskap aan jou mede-skoliere vir 2021? Wees positief en probeer die mooi dinge om jou raaksien. God het jou gemaak, Hy het jou gemaak om in hierdie tyd te lewe. Jy is nie toevallig of per ongeluk hier nie. Moenie dat die wêreld of dinge wat gebeur jou bang maak nie. God het ‘n plan vir jou en Hy is altyd by jou.
You were born for such a time as this; God is with us and God is in control. May God bless you.
Become a Sponsor








