Schools That Rock het ‘n paar vrae gevra aan Chrizé Boonzaier, Hoofdogter van Hoërskool Brackenfell.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Ek sien dit as iets wat elke persoon in ons land affekteer. Dit het ‘n baie negatiewe effek op ons land wanneer dit kom by ons ekonomie en die toename in werkloosheid, maar elke donker wolk het ‘n silwer randjie. Met die inperking kan jy meer tyd hê vir jouself en jou familie-lede. Ek glo ons moet die positiewe dele van hierdie aaklige historiese gebeure raaksien. Ek glo ons land sal sterker hieruit kom. Hierdie maak mense se oë oop en dit wys ook dat ons baie kan bereik as ons saam staan. Soos die Springbokke se slagspreuke: “Stronger together”.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Ek het nou die dag oor die radio gehoor hoe iemand gesê het dat niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. Ek hoor dit deesdae gereeld. Ja, ek dink nie die toekomstige onderwys gaan dieselfde wees nie en dit is op hierdie stadium nog baie moeilik om te kan sê hoe die toekoms gaan lyk vir onderwysers, personeel en leerders. Ek is baie beïndruk met hoe my skool, Hoërskool Brackenfell, asook ander skole, gebruik maak van digitale onderrig. Ek dink dit is definitief iets wat in die toekoms vir leerders baie voordelig sal wees.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
My grootste doelwit op Hoërskool was nog altyd om goeie herinneringe te maak. Byeenkomste soos Interskole, Top 4 en Interhuis was nog altyd iets om na uit te sien elke jaar. Dit is baie hartseer omdat die matrieks se ‘laastes’ van ons gestroop is. My doelwit nou, omdat ek ook Voorsitter is, sal definitief wees om die beste te maak van hierdie situasie.
Akademiesgewys volg ek nogsteeds ‘n daaglikse roetine waarin ek tydens die tye van die skool my skoolwerk doen. Alle leerders moet van hierdie geleentheid gebruik maak om nou hard te leer en matrieks moet al voorberei vir die eindeksamen.
Vraag: Hoe/wat beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
My toekoms planne is om graag na skool by ‘n universiteit te gaan studeer. My droom is om eendag ‘n fisioterapeut te word. Ek het laasjaar in September my kruisligament tydens ‘n eerstespan netbal wedstryd geskeur en moes ‘n operasie ondergaan. Deel van my 9 tot 12 maande herstelproses oefen ek gereeld saam met my fisioterapeut en ek geniet dit ongelooflik baie. Ek voel ‘n fisioterapeut is alles waarvan ek die meeste hou en ek wil baie graag mense help nes hulle my help.
Ek weet met baie harde werk sal ek my droom eendag kan bereik.