Paul Roos Gimnasium herdenk tradisioneel in November alle gevalle soldate, en meer spesifiek die 26 Paul Roos-oudleerders, wat hul lewens vir hul land tydens die twee Wêreld-oorloë , die Grensoorlog en die Vryheidstryd afgelê het. Die reünie-groepe van 1954, 1955 en 1956 het as eregaste die verrigtinge bygewoon.
Die verrigtinge het die lees van die ererol deur mnr Frans van Niekerk behels waarna ‘n krans by die gedenkmuur gelê en ’n laaste eerbetoon deur Devon Milne, hoofseun 2021, gedoen is. Die verrigtinge is met die speel van die Laaste Taptoe deur `n graad 10-leerder, Zachary Sauls, afgesluit deur ‘n minuut van stilte.
‘n Uittreksel uit mnr Van Niekerk se toespraak: “Uit respek en waardering vir die groot offer wat hierdie helde gebring het, wil ek elke Paul Rooser uitdaag om alles in jou vermoë te doen om konflik te vermy en jou daarop toe te spits om verdraagsaamheid te bevorder. Beywer julle om vredemakers te wees en respek en medemenslikheid altyd voorop te stel.”