Oakdale Toutrekspan
Oakdale 560 kg-toutrekspan wat Suid-Afrika by die Wêreldkampioenskap in Ierland gaan verteenwoordig.
Agter vlnr: Rayno Grundlingh, Robert-John Montgomery, Nicholas Joubert, Pieter J van Rensburg, Reynhardt Botha en Johan Geyser.
Middel vlnr: Mnr. Schalk Viljoen (SSK), Chrisjan Oosthuizen (k.), mnr. Piet Lourens (afrigter), Ben Viljoen (o.k.) en Annelie van Wyk (SSK).
Voor vlnr: Charl du Plessis, Anro Vermaak, mnr. Bennie Aucamp (spanbestuurder), Dewald le Grange en Tertius van der Watt.
Die 560 kg-toutrekspan van die Hoër Landbouskool Oakdale, Riversdal, vertrek Sondag, 31 Augustus, as die SA Proteaspan na Ierland waar hulle die land sal verteenwoordig by die wêreldkampioenskap te Castelbar.
Nadat die span goue medalje in die 560 kg-afdeling gewen het by die SA Toutrekkampioenskap, is hulle as die Proteaspan aangewys.
Die span is sedert April besig met voorbereiding vir die wêreldkampioenskap wat deelname aan verskeie senior kompetisies en streng gimnasiumprogram insluit. Sedert 2005 het Oakdale die land by nege wêreldkampioenskappe verteenwoordig waartydens 5 goue-, 2 silwer- en 1 bronsmedalje verwerf is.
Die span het Vrydag, 23 Augustus, hul benodigdhede met komplimente van hul hoofborg, Sentraal Suid Koöperasie asook Old Mutual Insure en Avenir Agri ontvang.