Na die ryke oes van sewe medaljes by die SA skole-kampioenskappe, het Hoërskool Nelpruit se atletieksterre dit ‘n voltal van tien gemaak, deur nog drie bronsmedaljes, dié keer by ASA se Jeug- en Junior-kampioenskappe (5-7 April 2018 te Paarl), te verower.
Na sy puik silwermedalje by SA-skole, het Douw Kruger sy persoonlike beste afstand in gewigstoot (seuns onder 18) tot ‘n indrukwekkende 17,58m verbeter – goed genoeg om aan hom (hy is vanjaar nog onder 16) ‘n derdeplek te besorg. Ook Ilke Joubert (dames onder 20) was vir die tweede keer op die rostrum, toe sy weer eens derde in gewigstoot geëindig het. Haar afstand was ‘n baie goeie 12,02m. Stefan Smit (mans onder 20) het verras toe hy met ‘n seisoenbeste van 60,83m in spiesgooi, een van net drie atlete was wat in hierdie item, verder as 60m kon haal.
Ruan Labuschagné (400m hekkies, mans onder 20) het na ‘n uitstekende 53.70 sek. in die uitdunne, net-net ‘n medalje misgeloop toe hy in die finaal vierde klaargemaak het. Sy skittertyd van 53.05 sek. was vinniger as die wentyd by 2017 se kampioenskappe, wat die hoë standaard by vanjaar se byeenkoms, duidelik onderstreep. Devon Nell (seuns o.18) was sesde in die finaal van sy 400m hekkies-item (55.44 sek.), nadat hy vroeër ‘n uitstekende 54.12 sek. in die uitdunne aangeteken het.
Douw Kruger was ook sesde in die skyfwerp (seuns o.18) toe hy die 1,5kg-skyf op 52,02m laat grondvat het. Aubrey van der Bank (seuns o.18) se 58,78m in die spiesgooi, het aan hom die agtste plek besorg.
Daar moet beslis ook melding gemaak word van oudleerling Naas Marais, wat tans ‘n eerstejaar aan die Noordwes-Universiteit is. Naas het die nasionale titel vir skyfwerp (mans onder 20) met ‘n reuse gooi van 58,83m ingepalm – meer as 6m verder as die atleet wat tweede was! Hy het ook silwer in gewigstoot verower (17,84m). Naas is voorts gekies om Suid-Afrika eersdaags by die ‘Southern Region’-byeenkoms, teen ander Afrika-lande te verteenwoordig.