Netbalspan span die kroon. Bethlehem Voortrekker Hoërskool se 1ste-netbalspan van het in alle opsigte ‘n indrukwekkende merk gemaak tydens die jaarlikse Sentaal netbaltoernooi. Die toernooi is by Hoërskool Sentraal in Bloemfontein aangebied.
Die o/19-deelnemende spanne was verteenwoordigend van gedugte skole van regoor Suid-Afrika. Voortrekker moes onder andere kragte meet teen kompeterende spanne van Brandwag, Fichardtpark, Garsfontein, Oranje, Despatch en Duineveld. Voortekker slaag daarin om 5 uit hul 6 poelwedstryde te wen en deur te dring na die semi-finale rondte. Uiters spannende wedstryde is onder meer teen Brandwag en Duineveld gespeel en beide spanne moes diep delf om hul mededingers te uitoorlê. Deursettingsvermoë en spanwerk het telkens vir Voortrekker die deurslag gelewer en oorwinnings vir die span verseker.
Tydens die semi-finale moes Voortrekker teen die tuisskool en toernooi-organiseerders, Sentraal, meeding. Beide spanne het hul man gestaan en uiteindelik gelykop 19-19 geeïndig. Na eksta tyd van 10 minute, kon ‘n onstuitbare Voortrekkerspan nie uitoorlê word deur Sentaal nie en slaag die Trekkers uiteindelik daarin om die wedstryd met ‘n telling van 26-23 te beklink. Hierdie was in alle opsigte ‘n soete oorwinning vir die Bethlehemiete. Hulle dring daarmee deur na die finale rondte teen Garsfontein.
Garsfontein het hulle eie posisie verseker deur ‘n oorwinning oor Hoërskool Waterkloof. Die finale wedstryd word deur Garsfontein gewen, maar Voortrekker het deurentyd hul onstuitbare krag getoon deur veral uitmuntende verdedigende spel vanaf al hul verdedigende spelers. Voortrekker word as naas-wenners van die toernooi gekroon en het in alle opsigte hul stempel as ‘n span waarmee rekening gehou moet word, afgedruk. Die Voortrekker 1ste-netbalspan maak Trekkerharte trots!
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf











