Netbal ‘Captain on Court’. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Bastion, Gauteng, se 1ste Netbalspan – ‘Captain on Court’, Chanté Myburgh. Chanté behaal die vierde doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Chanté, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op die ouderdom van 10 jaar begin netbal speel.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Ek is passievol oor netbal omdat dit ‘n lekker sport is om te speel. Dit is my uitweg na ‘n lang dag waar ek van al die slegte gebeurtenisse wat deur die dag gebeur het, kan vergeet en net die spel geniet.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Ja, ek neem aan ander sportsoorte deel, naamlik atletiek.
As Netbal ‘Captain on Court’ watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Ek speel tans ‘doel’ of ‘hulpdoel’, en ek het ook al in die verlede verdediger gespeel.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Ek was nie kaptein nie, maar wel onderkaptein in Graad 9 en is ook tans onderkaptein in Graad 12.
Gedurende watter netbal wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Ek het tydens ‘n wedstryd teen Hoërskool Birchleigh die meeste gestres omdat ek vir myself die doelwit gestel het van ‘player of the match’. Ek het só op daardie doelwit gefokus dat ek nie behoorlik op my spel kon fokus nie.
Chanté, het jy, as Netbal ‘Captain on Court’, enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Een doelwit wat ek graag wil bereik hierdie seisoen is om my ‘goal percentage‘ so hoog as moontlik te kry sodat ons span ‘n kans het om liga wenners te kan wees. Nog ‘n doelwit wat ek wil bereik, is om die beste speler tot my vermoë te kan wees om aan die einde van my seisoen te kan sê, “Ek het ‘n fantastiese seisoen gehad en ook een van die laastes op hoërskool.”
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ek beplan om voort te gaan met netbal, maar nie op ‘n professionele vlak nie, net om in die sport te bly en dit te geniet.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Ek beskou Linden Hoërskool as ons sterkste teenstander.
Wat doen jy, as Netbal ‘Captain on Court’, om jou span gemotiveerd te hou?
- Ek maak seker daar is nie konflik onder die span nie. indien wel, dan sorteer ons dit vinnig uit. Voor ‘n wedstryd stel elkeen van ons vir onsself ‘n doelwit wat ons deur die loop van die wedstryd wil bereik en ek, as onderkaptein, maak seker ek motiveer hulle om daardie doelwitte te bereik.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Ek kyk op na ons afrigter, ‘Coach‘ Sonika, omdat sy altyd daar is vir ons, maak nie saak wat nie. Sy motiveer ons daagliks en maak seker ons is gelukkig. Sy is ‘n hardwerkende vrou en sal altyd net die beste vir haar spelers wil hê.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- Die grootste nagmerrie wat ek al tydens netbal ervaar het, was in my eerste jaar in die 1ste span. Ons was op toer en ons het daardie een Saterdag netbalwedstryde gespeel. In die eerste wedstryd was ek op doel gesit. Ek wou die bal vang, en soos wat ek hom vang en land, skeur ek my knie se ligamente. Ek kon vir ses maande nie speel nie en dit het my baie moedeloos gemaak.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal ‘Captain on Court’ geword het?
- Vertroue rondom die span is die fondasie van effektiewe spanwerk. Om soveel as moontlik te kommunikeer om die beste uit spanwerk te kry. Die mees belangrikste een is dat almal se geluk ewe belangrik is.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal ‘Captain on Court’ .
- My hoogtepunte wat ek bereik het as speler, is dat ek kan sien hoe my spel op die baan verander het. Ek kan regtig sien hoe ek as speler ontwikkel het vanaf Graad 4 wanneer ek netbal begin speel het.
Wat was die beste advies wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- Ek het die beste advies ontvang van ons een afrigter wat sê dat, as ek van die baan afstap ek weet dat ek my beste gegee het, al was ons ver agter met punte.
Watter wedstryd was die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het?
- My lekkerste wedstryd wat ek al gespeel het is ons wedstryd teen Hoërskool Generaal Hertzog. Al het ek gevoel ek wil doodgaan, was dit vir my die lekkerste wedstryd. Ons het goeie spanwerk gehad en goed gekommunikeer.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- Daar is nie eintlik ‘n moeilike wedstryd nie. Dit gaan oor hoe sterk die span is en hoe graag ons span die wedstryd wil wen. As ons goed voorberei het vir die wedstryd, dan weet ek ons kan hierdie wedstryd wen.
Chanté, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- Ek sal ‘n ‘sjefsmes’ wees. Hierdie gereedskapstuk is verreweg een van die belangrikste basisgereedskap in jou kombuis. Omdat jy die sjefsmes vir soveel van jou voorbereidingstyd gebruik, is dit baie belangrik dat dit gemaklik en goed gebalanseerd is.
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Jeante Strydom, Suid-Afrikaanse netbalspeler. Ek sal wil hoor hoe sy gekom het tot waar sy vandag is. Ek wil haar vra hoe sy die uitdagings wat oor haar netbal-pad gekom het, oorkom het. Ek wil ook eintlik net haar sin vir humor in lewende lywe ervaar.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf