Netbal ‘Captain off Court’. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Bastion, Gauteng, se 1ste Netbalspan – ‘Captain off Court’, Johané Lamprecht. Johané behaal die vyfde doel in ons reeks oor Netbal Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Johané, op watter ouderdom het jy begin netbal speel?
- Ek het op die ouderdom van ses jaar begin netbal speel.
Is jy werklik passievol oor netbal? Hoekom?
- Vir seker. Netbal het ‘n positiewe uitwerking op my emosionele welstand en ek verbeter graag myself om ander te inspireer.
Neem jy ook aan ander sportsoorte deel?
- Ek doen graag verspring waar ek al op nasionale vlak deelgeneem het asook aksie-netbal waar ek op internasionale vlak deelgeneem het.
As Netbal ‘Captain off Court’ watter posisie speel jy tans? Het jy enige ander posisies in die verlede gespeel?
- Ek speel tans HV/V. Ek is ‘n baie veelsydige speler en het al in die verlede elke ander posisie gespeel.
Was jy al voorheen kaptein van ‘n netbalspan? In watter graad?
- Ek was in graad 9 kaptein op die ouderdom van 15 jaar.
Gedurende watter netbal wedstryd het jy die meeste gestres? Waarom?
- Ek is met elke wedstryd gestres, maar dis vir my ‘n teken van adrenalien wat veroorsaak dat ek my hart uitspeel.
Johané, het jy, as Netbal ‘Captain off Court’, enige doelwitte wat jy graag in die huidige seisoen wil bereik?
- Ek het tans ‘n besering, maar as hulp-speler langs die baan is my doelwitte om vertroue in my spanmaats te behou en goeie kommentaar terug te gee.
Beplan jy om na jou skoolloopbaan voort te gaan met netbal? Indien wel, op watter vlak?
- Ja, ek wil graag begin deur aan die Telkom Netbal Toernooi deel te neem en van daar af myself op te bou tot ‘n junior Protea en vol Protea-speler.
Watter skool, indien enige, beskou jy as jul sterkste teenstander?
- Tydens liga-toernooi sal ek sê verskil dit van span tot span. Dit kan afhang van hoe graag beide spanne bereid is om te speel vir ‘n ‘wen’. By uitspele beskou ek Hoërskool Florida as ons sterkste teenstander.
Wat doen jy, as Netbal ‘Captain off Court’, om jou span gemotiveerd te hou?
- As kaptein laat sak ek nie my kop tydens ‘n wedstryd nie en erken my span vir iets wat hulle gedoen het.
Is daar ‘n afrigter of netbalspeler na wie jy tans opsien as rolmodel en hoekom?
- Shamera Sterling as verdediger in die Jamaica Netbalspan. Sy laat nooit toe dat enige speler haar ontstel nie en sy bly gefokus op wat sy moet doen.
Wat was jou grootste netbal nagmerrie/ ervaring tydens ‘n wedstryd? Indien enige.
- Ek het aksie-netbal gespeel en op ‘n speler se voet getrap en gehoor hoe skeur my enkel se ligament af. Die pyn wat ervaar is, is onbeskryflik en ek wens dit vir niemand toe nie.
Wat het jy omtrent spanwerk geleer sedert jy Netbal ‘Captain off Court’ geword het?
- Hoe om met elke speler te praat op en van die baan af en elkeen se swak- en sterkpunte in ag te neem tydens ‘n wedstryd.
Beskryf jou hoogtepunte wat jy beleef het in netbal as speler en/of as Netbal ‘Captain off Court’ .
- Vir die hoeveelheid jare wat ek aksie-netbal toernooie speel, was my grootste doelwitte om in ‘n finaal as ‘speler van die wedstryd’ aangewys te word en ek het in 2022 en 2023 dit behaal.
Wat was die beste raad wat jy al van jou afrigter/s ontvang het?
- Wanneer ek ‘n slegte dag gehad het en ek dan ‘n wedstryd moet speel, sal my afrigter altyd vertroue in my hê en vir my sê ek moet slimmer speel, nie harder nie. Hulle weet altyd ek kán en daarom gee ek nooit op nie.
Watter wedstryd was die lekkerste wedstryd wat jy ooit gespeel het?
- Buiten wedstryde waar ek ‘af’ gevoel het, was elke wedstryd al vir my lekker – elkeen in sy eie manier.
Watter wedstryd was sover in jou loopbaan jou moeilikste wedstryd?
- In 2022 het ek en my aksie-netbalspan die finaal met 1 punt verloor. Ons het hard gewerk om tot daar te kom, maar die ander span het beter uithouvermoë gehad.
Johané, as jy ‘n kombuis-artikel sou wees, wat sal jy wees? Hoekom?
- ‘n Skinkbord, sodat ek tydens netbal my span kan lig en dra wanneer hulle voel hulle nie meer kan nie.
Met watter professionele netbalspeler sou jy graag wil koffie drink? Waarom?
- Nicholé Taljaard. Sy is ‘n Suid-Afrikaanse netbalspeler. Sy is my aanvaller rolmodel en ek sal graag haar passie vir netbal wil hoor en dit toepas om my passie te verbeter.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf