Hokkie Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Bastion se 1ste dogters Hokkiespan kaptein, Liané Wagner. Liané teken die vyfde doel aan in ons reeks oor Dogters Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Lianné, op watter ouderdom het jy begin hokkie speel?
- Ek het op die ouderdom van nege begin hokkie speel. Ek was in Graad 3.
Hoekom hou jy van hokkie? Wat het jou laat besluit om hokkie te speel?
- Ek wou graag betrokke raak by sport en my laerskool het ‘n hokkie-kliniek aangebied. Vir die eerste keer het ek iets regtig geniet. Hoërskool Bastion se eerste span hokkiespelers het vir die hoër grade ondersteuning gebied en ek het vir myself gesê dat ek eendag net so goed soos hulle wil wees. Dit is waar my liefde ontstaan het vir ‘n sport wat deel van my lewe geword het.
Wie is jou gunsteling professionele hokkiespeler? Hoekom?
- My gunsteling professionele hokkiespeler is Maartjie Paumen. Sy was ‘n speler vir “Dutch field hockey”. Sy is my gunsteling, nie net omdat sy die rekord hou vir die top puntemaker in die Nasionale Nederlandse hokkie liga en ook meer as eenkeer die kampioentrofee gekry het nie, maar ook omdat sy haar span altyd waardeer het, soos gesê was in ‘n onderhoud: “It was really special to me because it was no tour best tournament, but we were there as a team and was really nice.”
Watter posisie speel jy tans? Watter posisie/s het jy al gespeel?
- My hokkie posisie was nog altyd ‘middle-back’. Alhoewel ek soms ‘n ander posisie speel, sal ‘middle-back’ altyd my sterk punt bly.
Wat is, volgens jou, as Hokkie Kaptein, die grootste taak van die Hokkie Kaptein – op die veld en tydens oefening?
- Die Kaptein speel ‘n belangrike rol. ‘n Kaptein moet tydens ‘n wedstryd elke speler verteenwoordig en leiding neem, sowel as tydens oefening. ‘n Kaptein moet ook sy/haar spelers ‘n gevoel van stabiliteit gee.\
Wanneer was jy vir die eerste keer as Hokkie Kaptein verkies?
- Ek was die eerste keer verkies in Graad 8 (14 jaar oud), maar as gevolg van Covid, was die hokkiejaar kort. Daarna was ek vir die tweede keer as kaptein verkies.
Oor watter bekwaamhede/ kwaliteite, dink jy, moet ‘n goeie hokkiespeler beskik?
- Een van die belangrikste kwaliteite vir my wat ‘n hokkiespeler moet hê, is kommunikasie, vaardighede, respek vir ander, ‘n positiewe houding en om te kan lei deur voorbeeld. “Skills kan aangeleer word, maar om jou span positief te verteenwoordig is ‘n ander ding.”
Wat inspireer jou elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd?
- My inspirasie is my jonger self, wat haar alles gegee het om deel te wees van ‘n span waar sy ‘n verskil maak. Ek wil daardie inspirasie wees vir ander soos iemand vir my was jare gelede.
In jou loopbaan tot nou – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asb uit.
- My gunsteling wedstryd was die een toe ek vir die eerste keer verkies was om in die eerstespan te speel. Ek kan my gunsteling ding doen (hokkie) met my spanmaats wat net so lief is vir die sport soos wat ek is.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Wat het jy daaruit geleer?
- ‘n Wedstryd wat ek gou wil vergeet, is die laaste wedstryd van my Graad 11 jaar. Ek wou net ‘n wen-spel gehad het. Ek het vergeet van die liefde wat ek vir die sport ervaar het. Na die wedstryd was ek so teleurgesteld en ek het toe besef dat hokkie soveel meer beteken as net ‘n wen en dat ek die oomblikke moet geniet.
Liané, as Hokkie Kaptein, hoe hanteer jy druk tydens ‘n hokkiewedstryd?
- Druk/stres is onvermydelik. Die manier waarop ek dit hanteer is deur vir myself te sê dat ek gefokus moet bly op die tyd wat oor is van die wedstryd en nie wat klaar verby is nie. Speel om dit te geniet, nie om te wen nie en fokus daarop wat ek kan beheer.
Hoe motiveer jy, as kaptein, jou span?
- Deur die span te herinner dat ons ‘n familie is en saam werk vir dieselfde doelwit, is een van my gunsteling maniere om my spanmaats te motiveer. Om my spanmaats se opinies te hoor, sowel as doelwitte vir ‘n wedstryd, motiveer ek myself en die hele span om dit te maak gebeur, want as ‘n familie help ons mekaar.
Het jy enige raad vir beginners in hokkie?
- Moenie opgee nie, net omdat iets moeilik of ingewikkeld lyk, beteken nie jy gaan dit nie kan doen nie. Dit vat tyd en baie oefening om te kom waar jy wil wees, maar dit sal die beste gevoel wees die dag wanneer jy dit regkry.
Beplan jy om met hokkie voort te gaan na skool? Op watter vlak?
- Ja, ek doen. As ek aanvaar word na ‘n Universiteit wat hokkie as ‘n sport aanbied, sal ek vir hulle wil speel, anders sal ek vir ‘n senior vlak hokkie klub wil gaan speel.
Wat is jou grootste enkele hoogtepunt (sport of andersins) die afgelope vyf jaar?
- In die afgelope 5 jaar, was my grootste hoogtepunt om onder-hoofmeisie van sosiaal en bemarking te word, aangesien soveel doelwitte bygedra het tot die verkiesing.
Het jy enige ander stokperdjies/ belangstellings buiten hokkie?
- Ja, ek hou baie daarvan om te dans, meer spesifiek, ritmiese gimnastiek, maar ek moes een opgee omdat dit te veel was.
Hoe sal jou afrigter en spanmaats jou beskryf?
- Iemand wat baie gefokus is tydens oefening en wedstryde, asook iemand wat altyd iemand sal help en raadgee.
Is daar enige afrigter of hokkiespeler na wie jy opsien as rolmodel?
- Juffrou Anuschka de Jager, omdat sy die liefde vir hokkie ook ervaar. Sy is die rede hoekom my liefde vir hokkie soveel meer geword het in my hoërskool loopbaan. Sy is ‘n baie talentvolle hokkiespeler wat altyd die beste van ‘n situasie kan maak.
Saam met watter professionele hokkiespeler sal jy graag wil koffie drink?
- Hannah Pearce. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse vrou om kaptein te wees van Harvard se hokkiespan. Ek sal graag meer van haar pad wil hoor en van hoe sy begin hokkie speel het tot vandag waar sy so ‘n groot rol gekry het by Harvard Universiteit wat ‘n private Ivy League navorsings instituut is.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf