Landbouskool Boland. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Hannes van Wyk, Hoofseun van Hoërskool Hoër Landbouskool Boland, vir 2022.
Hannes, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoër Landbouskool Boland?
Ek sien dit as ‘n voorreg. Dit was nog altyd ‘n droom van my gewees om ‘n leier in my skool te wees. Ek vind plesier in die feit dat ek in staat is om iets te beteken vir my skool en sy kinders.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Boland Landbou jou vir die rol as leier voorberei?
Daar word altyd gesê: “Observation is key.” Ek het dit ter harte geneem. Ek kon sien hoe dinge gedoen word en ander waargeneem wat in leiersposisies was. So kan ek ook sien wat nie werk nie en wat ek graag anders gedoen sou wil hê.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek vind raad op verskeie plekke. Die Here is nog altyd die rots waar ek kan gaan vir hulp. My Oupa leer hoe om mense opreg te hanteer en is beslis ‘n mentor vir my. Verder leer ek maar by almal wat oor my pad kom en probeer hulle advies implimenteer in my eie lewe.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Die broederskap onder die seuns is vir my aangrypend. Hoe so ‘n klomp seuns van wyd en syd soos familie kan word, gaan my verstand te bowe. Daar ontwikkel verhoudings wat deur dik en dun sal staan.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ja, beslis. Dit hou leerders aktief en gesond. Dit leer mens ook belangrike vaardighede wat nie elders aangeleer kan word nie – dinge soos spanwerk en uithouvermoë.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Die huislike atmosfeer wat mens ervaar by die skool. Die rustige plaas en sy mense. Dit maak my hart rustig en ek gaan dit beslis eendag mis.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Om ‘n skool te wees waar elke seun geluk vind. ‘n Plek waar inisiatief geneem word, maar terselfdertyd resultate verkry word.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Ek het so baie genade van die Here af ontvang in my lewe.Dit is my mening dat dit van my afhang om dit wat ek gekry het, ten volle te gebruik en my beste lewe te leef. Ek moet my lewe gebruik om iets te beteken vir ander.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Boland Landbou te word?
By Boland Landbou sal jy deel word van ‘n familie. Jy sal verhoudinge bou en ervarings beleef wat jy nêrens anders kan kry nie. Die plaaslewe is rustig en kalmerend. Maar die belangrikste van als: Jy gaan hier uitstap as ‘n man. Jy gaan iets kan beteken vir ander mense.
Wat is jou toekoms-ideale?
Om suksesvol te wees in die beroep wat ek kies en om die Here voluit te dien en sy liefde uit te leef teenoor ander mense.
Lees meer oor Boland Landbou: