Trio Kroonstad. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Carla Crous, Hoofmeisie van Hoërskool Trio Kroonstad, vir 2022.
Carla, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Trio Kroonstad?
Om te alle tye ‘n voorbeeld te wees en om in elke situasie ‘n verskil te probeer maak in mense se lewens rondom my.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Blouskool – nou Trio Kroonstad jou vir die rol as leier voorberei?
Alhoewel my mikpunt nooit was om ‘n leier te wees nie, het Blouskool my definitief gehelp om te groei in wie ek vandag as persoon is. In Bloues kon ek blootgestel word aan nuwe kulture en dit het my hele uitkyk op die lewe verander. In Bloues is almal altyd gewillig om ander te help en te ondersteun en dit het my geleer om my sig te verbreed deur nie net na myself om te sien nie, maar ook na my medemens en kollegas.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Jesus sal altyd my hoogste inspirasie wees en Sy Heilige Gees is definitief een van die beste mentors wat ek al ontmoet het! God se Woord raak nooit op nie. Vandag lees jy een versie en môre wanneer jy dit weer lees, wys Heilige Gees vir jou ‘n heel ander boodskap.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Op die stadium is ek nog onseker. Tog weet ek dat ek baie lief is vir mense en dalk graag ‘n beroep wil betree wat uitreik na ander en ‘n verkil kan maak in die wêreld daarbuite.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Daar is so ‘n mooi gees van aanvaarding en ondersteuning in Bloues wat ek dadelik opgemerk het vanaf die eerste dag wat ek in die skool ingekom het. Dit wys net vir my hoe maklik dit eintlik is om in vrede met die mense rondom jou te leef en altyd nederig te bly.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Sport is lekker en die interaskie met ander tesame met die oefening is baie goed vir ‘n mens. Tog voel ek nie dat dit verpligtend moet wees nie. Party kinders vind hulle liefde en talente in ander goed as sport. Ek self is lief vir sport en toe ek jonger was, het ek baie ure daarin gesit terwyl ek nog tyd gehad het om my ander passies uit te leef soos musiek, drama en kuns. Toe ek egter ouer word het ek soveel meer verantwoordelikhede gekry en moes ek begin om besluite te neem oor wat ek saam met my kan vat in die toekoms in.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Sjoe, daar is so baie dinge wat lekker was tydens my skoolloopbaan; tog was die lekkerste tyd vir my om deel te kon wees van die VCSV en worship-aande by die skool. Ek voel dat ek soveel geleer en gegroei het as ‘n persoon by die VCSV.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Dis ‘n moeilike jaar wat voorlê met die samesmelting van die skole. Elke skool het sy eie tradisies en dinge wat vir hulle belangrik is. My doelwit is om aan die einde van die jaar te kan sien dat ons as VRL aanvaarding en samewerking onder die leerders geskep het en so ook die fondament gelê het van ‘n skool om op trots te wees.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Die wete dat ek eendag ‘n verskil kan maak in so baie mense se lewens, motiveer my om hard te werk en my beste in alles te gee.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Trio Kroonstad te word?
In Trio is ‘n skool van verskillende kulture en met goeie Christelike waardes. ‘n Mens leer elke dag iets nuuts en jy leer ken so baie mense. Trio het ook ‘n baie wye vakkeuse en sport en kultuur keuses.
Wat is jou toekoms-ideale?
Om suksesvol te wees in die beroep wat ek kies en om die Here voluit te dien en sy liefde uit te leef teenoor ander mense.
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Trio Kroonstad:
https://schoolsthatrock.co.za (Rooiskool en Blouskool naamverandering)
https://blouskool.co.za (Naamverandering pas ondergaan)