Die leerders en personeel van Hoërskool Cradock moes die afgelope week die amper-ondenkbare doen en afskeid neem van twee groot geeste by Hoërskool Cradock.
Mnre. Adolf Gouws en Abrie Le Roux het albei onlangs poste aanvaar wat hulle neem na die Wes-Kaap, waar hulle onderskeidelik in Mosselbaai en Worcester ‘n nuwe hoofstuk in hul loopbane sal begin. Mnr Gouws is aangestel as skoolhoof by Hoërskool Punt terwyl mnr Le Roux die posisie van adjunkhoof by Worcester Gimnasium aanvaar het.
Vir amper drie dekades was mnr. Le Roux verbonde aan CHS as onderwyser, sportafrigter, mentor en vertroueling vir baie. In sy klaskamer kon leerders op interessante en interaktiewe maniere Lewenswetenskappe sowel as Natuurwetenskappe leer. As sportafrigter het hy sy spelers nie net op die veld, maar ook van die veld af, ondersteun en bemoedig om altyd hul beste te gee en terwyl insig en empatie vanselfsprekend deel was van elke situasie wat hy teegekom het, het die warm glimlag in sy oë altyd gerustheid gebring.
Soms het dit ook verklap van ‘n poets wat iewers gebak word. Geen woorde sal ooit genoeg wees om die werklike impak van sy menswees op die jeug van Cradock te beskryf nie.
Mnr. Gouws het vier jaar gelede by die Kwaggafamilie aangesluit en sommer vinnig sy plek by CHS volgestaan. As skoolhoof het hy daadwerklike planne in plek gesit om die skool uit te bou en met behulp van die ouers en personeel van CHS hard gewerk om die doelwitte van die skool en sy leerders te bereik.
Mnr. Gouws het met ‘n streng hand orde verseker, maar ook altyd tyd ingeruim vir pret en ontspanning. Vir hom is die leerders en hul leerervaring van uiterste belang, terwyl die holistiese ontwikkeling van elke jongmens nooit te ver op die agtergrond is nie.
Hul spore wat by CHS agterbly en die invloed wat beide hierdie personeel op die lewens van die leerders van Cradock gehad het is onbeskryflik.
Hul verbintenis met Hoërskool Cradock het die skool se werksaamhede en toekoms onherroeplik verander en dit is met groot hartseer dat die Kwaggafamilie hierdie twee reuse groet. Die Wes-Kaap is beslis twee ster-onderwysers ryker. Die beste wense van voorspoed en sukses vergesel beide mnr. Gouws sowel as mnr. Le Roux en ons vertrou dat ons hulle gou weer in Cradock sal sien, want soos elke leerder en oud-skolier weet: “Eenkeer ‘n Kwagga, altyd ‘n Kwagga”.
Op die foto:
Mnre. Abrie Le Roux (links) en Adolf Gouws (regs) groet die Kwaggafamilie om in Oktober die nuwe hoofstuk van hul loopbane in onderskeidelik Worcester en Mosselbaai te begin.