Krieket-kapteins. Schools That Rock gaan oor die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span krieket kaptein gesels. Ons eerste bal word geboul aan Wium Smit, kaptein van Hoërskool Aliwal-Noord se 1ste krieket span.
“Ek is al van ‘doekdra-dae’ af ‘n getroue krieketer! Dit was egter in Graad 1, op sewejarige ouderdom, wat krieket regtig ‘n passie vir my geword het. Krieket is ‘n sport wat baie aandag aan tegniek en strategie vereis. Van kleins af was Jacques Kallis my held. Ek verbeel my soms dat ek op Nuweland uitstap met die nommer 3 Protea-trui aan. Ek wou altyd my tegniek so na as moontlik aan perfek kry. Die uitdagings van veldplasings, boul en kolf is ook vir my lekker, veral as dit verloop soos beplan! Ek hou van krieket omdat dit oor die algemeen ‘n lekker spansport is wat nie net fisiese inspanning vereis nie, maar ook ‘n bietjie breinkrag.
In ons dorp, Aliwal-Noord, bied die krieketklub ‘n aandliga-toernooi aan. Aanvanklik was dit nogal moeilik om die skoolseuns op week-aande by die wedstryd te kry en het die “vaak” die span dikwels oorval. Gelukkig is ons nou fiks vir die aandliga en ondervind ons geen probleme nie. Die belangstelling in krieket hier by ons skool is nie baie groot nie. Dit skep nogal probleme. Ek moes al vanaf die 2020/21 seisoen ons spannetjie lei terwyl ek nog in Graad 11 was.
Jong spelers
Ek beskou dit as my plig om almal deurentyd gemotiveerd te hou. ‘n Hoërskoolseun is geneig om bietjie sy gedagtes te laat dwaal. Dus wil ek almal heeltyd skerp en gefokus hou terwyl ons oefen in die nette en tydens wedstryde. Omdat ons span ook uit redelike jong spelers bestaan, probeer ek hulle so veel as moontlik bloot te stel tydens wedstryde, sodat hulle vroeg al uit die ervaring kan leer en verbeter.
Die span oefen minstens twee keer per week, as die weer dit toelaat. Baie van die spelers neem ook inisiatief om op hulle eie te gaan oefen, om sodoende fiks te bly.
My eerste wedstryd in Graad 1 was sommer net ‘n getjommel-tjommel, maar my eerste rooibal wedstryd in Graad 4 was iets heeltemal nuut! Dit was die eerste keer dat ek beenskutte en handskoene moes dra, wat boonop te groot vir my was! My eerste wedstryd as kaptein was veel erger! Ek moes vir die eerste keer die besluite maak en almal bestuur! Dis egter veilig om te sê dat ek baie geleer het van daardie wedstryd af.
Ek dink ‘n goeie krieketspeler moet ‘n oopkop, koelkop ou wees. Iemand wat kan aanpas en nie gou konsentrasie verloor nie. So ou sal sommer kookwater krieket kan speel!
Wenresep
Ons spannetjie speel al ons wedstryde met ‘n bo-natuurlike krag wat ons bewaar, maar dit beteken nie dat elkeen nie sy kant moet bring nie! Ek glo die wenresep kan net werklik in werking tree, as elkeen in die span sy beste gee! As elke speler 110% gee, is ons soos ‘n stel ge-oliede ratte!
Ek speel krieket omdat dit lekker is, maar ook omdat dit lekker is om te wen! Elke keer wanneer ek op die veld stap, herinner ek myself aan daardie oorwinnings-gevoel en hoe lekker dit is om 110% te gee en te wen! Ek geniet dit om te boul en te kolf, maar as ek nou regtig moes kies, sou ek verkies om te kolf. Daar is net iets baie besonders daaraan om ‘n bal reg in die middel van die kolf te tref!
As ek moet dink aan watter krieket wedstryd my lekkerste was, onthou ek baie spesifiek ‘n wedstryd wat ons teen Burgersdorp se 1ste span gespeel het Ons het die loot gewen en hulle ingestuur om te kolf. Daarna boul ons hulle almal uit vir 42! Ons afrigter, Mnr Holtshauzen, besluit toe sommer om ons nommer 10 en 11 kolwers in te stuur om die telling na te jaag en hulle het dit sowaar as vet reggekry! So wen ons daardie wedstryd met 10 paaltjies!
Beste kolfbeurt
As ek moet dink aan die kolfbeurt wat my altyd sal bybly – Ek het in my Graad 5 jaar nog op Springbok skoolgegaan. Ons laaste wedstryd van die seisoen het ons teen Steinkopf gespeel. Hulle het ‘n telling van 129 behaal in hulle 20 boulbeurte en ek word toe ingestuur om die kolfwerk te open. Ek het elke bal na die bykant getrek en 66 lopies aangeteken voor ek myself uitgehardloop het. Definitief die kolfbeurt wat ek altyd sal onthou!
Wanneer ek dink aan die wedstryd waarin ek die beste boul-ervaring beleef het, is dit ‘n wedstryd teen Laerskool Hangklip. Ek het my beste boulsyfers van 5 paaltjies vir 12 lopies, in 4 boulbeurte behaal. Dit het ‘n drie-kuns ook ingesluit!
Ek is die openings-kolwer van ons span en ook op die leerlingraad van die skool. Die druk loop hoog op en van die veld! Daarom hanteer ek die druk van my allerdaagse lewe, soos my kolfbeurt; ek hou my oog op die bal! Jy gaan soms teleurstellings ervaar, maar moet nie laat dit jou uitboul nie! Wees sterker as jou probleme en leer daaruit.
Beginners
My raad aan beginners: Leer by alles en almal! Moenie skaam wees om hulp te vra nie, want daar is baie mense wat jou graag sal help! Moet ook nie dat duur toerusting jou afskrik nie! Befondsing is nie ‘n probleem nie.
Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, is ‘n baie goeie bron van raad Mnr. Mario Geldenhuys! Hy is regtig hoog-geleerd in krieket en is uitstekend om die span se sterk punte en swakhede uit te wys! Ons neem altyd sy raad ter harte, al is dit soms moeilik om te hoor…
As jy my sou vra wie die “nar” in ons krieket span is, moet ek sê dat dit ‘n man is met die naam Regard Vorster! Altyd geselserig en vinnig met sy humor!
In ons span is daar nie eintlik een persoon wat ek kan uitsonder wie my die meeste verras met krieket wedstryde nie. Die hele, maar hele span, het my al diep beïndruk! Ek is regtig trots op hulle!
Indien ek moet dink aan ‘n bouler vir wie ek die meeste vrees inboesem, is daar nie regtig een nie. Ek is nie sommer skrikkerig vir boulers nie, maar sommige van die menere wat ons in die aandliga moet trotseer, is vrek vinnig!
Ons span het nie regtig ‘n “pre-match” ritueel nie. Ons maak gewoonlik net ‘n paar opmerkings oor die loot.
Toets-krieket
Ek geniet dit om krieket op televisie te kyk, net om te sien hoe die nuwe talent in die spanne vorder. Dit is lekker om die jong spelers se selfvertroue te sien groei en hoe hul statistiek verbeter! Ek is baie lief vir toets-krieket, omdat dit rustig is, maar jou tog op hete kole hou…
As ek myself in een woord moet beskryf, is dit nederig.
Ek geniet dit om in my vrye tyd met my hande te werk en goedjies te maak. Ek is veral lief daarvoor om fyn-detail projekte aan te vat.
Ten slotte wil ek net noem dat ek dankbaar is vir die geleentheid om my span met julle te kon deel en ek hoop dat elke leser met nuwe oë na krieket sal kyk!
Aan my ANHS 1ste Span: Dankie dat julle altyd 110% gee! Dankie aan elkeen van julle wat altyd bereid is om enige plek in die kolflys in te staan!”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
https://www.facebook.com/AliesANHS