Hoërskool Strand se 1ste krieketspan
Die afgelope week het talle kriekethoogtepunte opgelewer vir Hoërskool Strand.
Die eerste krieketspan het die afgelope week in die 20/20-kompetisie met 74 lopies teen Paul Roos Gimnasium verloor, maar nogtans goed rekenskap van hulself gegee. Die kriekethoof by Paul Roos, mnr. Merwe Genis, het opgemerk dat die eerste span ‘n baie goed-afgerigte span is.
Saterdag 25 Januarie het Hoërskool Strand vir Parel Vallei met 78 lopies geklop. Op 3 lopies vir die verlies van 2 paaltjies, het Strand gewankel, maar danksy ‘n vegtersbeurt van 61 deur die kaptein, Henco Stofberg, het die Strand 168 lopies aangeteken. Guillaume Jansen met 32 het hom baie goed ondersteun. Daarna het Chris Jurgens 6 paaltjies vir slegs 6 lopies geneem en Parel Vallei se topkolwers verniel. Hierdie graad 10-leerder het een van die allerbeste boulvertonings in die Strand se geskiedenis gelewer.
Die O/19B-krieketspan het teen Labori baljaar en ‘n skitterende 234/6 aangeteken. Ethan Beckett het ‘n briljante 136 lopies aangeteken. Een van sy sesse het in die seunsvierkant beland. Labori is daarna vir 102 lopies uitgehaal en Hoërskool Strand seëvier met 132 lopies.
Die O/15A-span het Calling Academy met 8 paaltjies verinneweer. Die besoekers het 99 lopies aangeteken waarna Strand met 101/2 geantwoord het. Donovan Brooks het ‘n uitstekende 40 lopies van slegs 27 balle geslaan. Junaid Fourie het baie goed geboul en 3 paaltjies vir 27 lopies platgetrek.
Vroeër die week het die O/14A-span met 77 lopies teen Boland Landbou verloor, maar hulleself reggeruk en ‘n uitnodigingspan van Parel Vallei, genaamd die Basin Tigers, met 4 paaltjies geklop. Die manne van Somerset-Wes het ‘n baie goeie 159 aangeteken, waarna die Strand ‘n uitstekende 163/6 aangeteken het.
Tyron Nicholas het ‘n skitterende 58, nie uit nie, aangeteken. Hy is goed deur Nathan Drotsky met 28 en Lee-Hogan Gordan met 20 lopies ondersteun. Nathan Drotsky het baie goed geboul en 2/24 platgetrek. Ethan Leonard het hom goed bygestaan en ook met ‘n 2/28 geëndig.
Dit was ook die eerste keer in jare dat ‘n O/14-krieketspan van die Strand ‘n voldagwedstryd op ‘n Saterdag gespeel het.
Dit was dus ‘n heerlike krieketweek met talle mylpale wat gevier behoort te word!