Die Wilgers tuisbepalings Sportsoorte. Die Wilgers gee hiermee tuisbepalings vir verskeie sportsoorte binne die volgende twee maande. Alle bepalings is onderhewig aan COVID-protokol wat gehandhaaf kan word. Enige wedstryd kan op kort kennisgewing gekanselleer of uitgeskuif word. Die hokkie-bepalings mag moontlik nog verander.
Wilgie-Sport strewe na die volgende doelwitte:
- Om sport op ‘n top vlak te behou
- Elke leerder se vaardighede en vermoëns te verbeter
- Behou ‘n kultuur van trots en sukses
- Ontwikkel ‘n liefde vir sport by leerders en om blywende kameraadskap te bou
Netbal:
Wilgies se netbal behou jaarliks uitstekende uitslae in die liga en is ‘n span om mee rekening te hou, danksy ons lojale en trotse netbaldogters en bekwame afrigters. Elke Wilgie-netbaldogter se droom is om daardie wit Eagles rokkie oor jou kop te trek en deel te wees van Wilgers se eerstespan en op daardie baan te stap en jou hart uit te speel. Maar hierdie 2020 seisoen is anders. Te midde van chaos in die wêreld en ons land, onsekerheid oor ons toekoms en die gemis na “normaal” raak, is ek rustig en dankbaar. Dankbaar vir die een geleentheid hierdie seisoen wat ons as span op die veld kon stap en ons harte kon uitspeel en die ander span kon oorwin met trots.
Baie dankie vir almal, Dionné, Melandi, Anja, Zoë, Andrea, Charlene, Mari, Zané en Delaney wat op hul eie manier hulself fiks hou en gemotiveerd bly. Want miskien, net miskien in die “nuwe normaal” trek ons daardie wit Eagles eerstespan rokkies aan en maak ons die trofeekas vol!
Rugby:
Rugby was nog altyd deel van die etos van Wilgers. Ons eerstespan staan bekend as die “White Sharks” en dit bly ’n voorreg om vir hierdie span te speel.
Boodskap van die nuwe Sportdirekteur: Graag wil ek my aan julle bekendstel. Ek is Emwee Arlow.
Ek is oorspronklik vanaf Heidelberg en het my na my skoolloopbaan in die Jakarandastad gevind. Hier het ek by Hoërskool Hendrik Verwoerd vir ‘n periode van 7 jaar gewerk. Ek is ‘n entoesiastiese persoon wat doelgerig is. Sport is my passie en liefde. Ek is nie iemand wat opgee nie – ek glo in harde werk asook eerlikheid want dit sal die nodige resultate bring. Sport is vir my belangrik aangesien dit vir ons belangrike lewenslesse leer, so ook selfdissipline. Ek sien daarna uit om ‘n pad saam met Hoërskool Die Wilgers te stap en om deel te word van die skool se diep gewortelde tradisies en waardes en te trek daarop om sodoende by te dra tot ons opwindende en uitdagende nuwe toekoms.
Rugby was nog altyd deel van die etos van Hoërskool Die Wilgers. Ons eerstespan staan bekend as die “White Sharks” en dit bly ’n voorreg om vir hierdie span te speel.
Hokkie:
Die hokkieseisoen is heerlik besig met vyf dogtersspanne en drie seunspanne. Dogters speel in hul liga die tweede kwartaal en die seuns soms tot in die derde kwartaal. ‘n Tradisie van lojaliteit loop dik deur Die Wilgers hokkie se are. Ons afrigters is oud-skoliere wat self sterk betrokke is met afrigting van klubspanne. Die passie wat ons het vir hokkie, sowel as vir ons skool is legendaries. Ons beplan om binnekort die droom van ‘n astro-veld te bewaarheid. Die hokkieseisoen is heerlik besig met vyf dogtersspanne en drie seunspanne. Na die vriendskaplike reeks, speel die dogters in hul liga deur die hele tweede kwartaal. Die seuns het heelwat meer ligwedstryde wat soms tot in die derde kwartaal oorloop. Ons neem deel aan die Noordvaal kompetisie met die dogters en kon al as ligawenners uit die stryd tree. Mens sal ver soek om ‘n hegter span afrigters en spelers te vind by ‘n skool sonder weerga.
Sagtebal:
Sagtebal is ‘n opwindende sport. Ons het bekwame afrigters wat ons spanne afrig. Wilgies Sagtebal lewer elke jaar vele Gautengspelers op. Sagtebal floreer by Die Wilgers. Ons skool is een van die weiniges in die oostelike voorstede wat sagtebal vir dogters aanbied. Die sagtebalseisoen is in die derde kwartaal van die jaar. Vier dogterspanne word in die ligas ingeskryf. Die Wilgers se sagtebal KOOK! Hulle het vir die 2de jaar in ‘n ry die liga gewen en opgeskuif. Die spanne se gees is fantasties en die dogters oefen lekker hard. Afrigters is net so lief vir die sport soos die leerders. Sagtebal begin in die 3de Kwartaal. Oefentye is gewoonlik Maandae tot Woensdae om 15:00-17:00, maar sal bevestig word sodra ons liga-bepalings ontvang.
Krieket:
Met afrigters wat die ekstra myl loop, hoef ons spelers nie ’n enkele millimeter terug te staan in die hitte van ’n kompeterende krieketwedstryd nie. Ons krieketseisoen spring in die derde kwartaal weg. Ons speel in vier van die skoleligas en beskik oor een van die beste kolfblaaie in Pretoria. Verder is ons fasiliteite nou opgegradeer om dié sport nog verder te ontwikkel. Met ons nette wat opgegradeer is sien elke Wilgie-krieketspeler uit daarna om hulle vaardighede nog beter te maak. Elke jaar is al ons krieketspanne baie kompeterend en staan ons seuns nie terug vir enige span nie. Ons seuns word nie net afgerig om op die veld te presteer nie, maar ook om ‘n goeie sportman van die veld af te wees.