Op Saterdag 14 Oktober2017 het die tartanbaan van die Cradock Sportkompleks gewemel van besoekende atlete wat van oral heen gereis het om deel te neem aan die jaarlikse Bestmed, Tams Superspar en Madibaz Skole Top10. Hoërskool Cradock het hierdie gewilde byeenkoms vanjaar vir die twaalfde jaar aangebied.
Met die kwik wat vinnig bo 30 grade Celcius gestyg het, verg dit nie veel van die atlete om die baan aan die brand te hardloop nie. Ook in die verskeie velditems loop atlete hulself vas teen strawwe kompetisie. Nietemin het atlete hul allerbeste gegee en puik prestasies behaal.
Agt honderd een en dertig atlete van die Oos- en Wes-Kaap het sake uitgespook in die hoop om ‘n medalje saam te neem huis toe. Met ‘n rekord getal van 50 skole wat vanjaar deelgeneem het, is dit duidelik dat hierdie gesogte byeenkoms oor ‘n wenresep beskik. Cradock se ligging (hoogte bo seespieël en afstand vanaf die kus) leen homself uitstekend daartoe dat atlete rekordtye, -afstande en -hoogtes opstel. Dit was ook duidelik op die dag met ‘n ongelooflike 63 byeenkomsrekords wat opgestel is.
LJ van Zyl, SA Rekordhouer en Olimpiese atleet, het hierdie jaar atlete verras met sy teenwoordigheid toe hy atlete se medaljes oorhandig het. LJ is ‘n ambassadeur van Bestmed, een van die byeenkomsborge en het hulle ook op die dag verteenwoordig. Ook Madibaz Atletiek het verteenwoordigers gestuur om handjie by te sit met die aanbieding van die dag.
Met prysgeld op die spel vir die beste presterende skool sowel, as die top manlike en vroulike atleet, was die vasberadenheidvan die atlete tasbaar. Dit is egter die skole vanuit die Boland wat met die louere wegstap. Paarl Boys High tree na vore as wenners, gevolg deur Paarl Gimnasium en La Rochelle Girls High wat in die derde plek eindig.
- Mohamed (Hangklip) en K. Louw (La Rochelle) is as die beste manlike en vroulike atlete vereer met onderskeidelik 1008 en 946 punte op die ASA-tabel.
Vanuit eie geledere is dit Elsabè du Plessis wat oudergewoonte die toeskouers op hul voete gehad het. Elsabè wen die 100m vir dogters o/19 in ‘n tyd van 11.81s. In die 200m reken sy in ‘n tyd van 24.84s vinnig met haar teenstaanders af, waarvan meeste ouer atlete is van die Madibaz Atletiekklub. In beide hierdie items teken Elsabè nuwe byeenkomsrekords aan.
Marike Dannhauser wen goud in d. o/17 200m (26.25s) en silwer in d. o/17 100m (12.75s). Houghlynne Swart spring ‘n pragtige 4.66m vir d. o/17 verspring om ‘n silwer medalje te verower. Janade Bouwer wen twee silwer medaljes in die s. o/17 verspring (6.26m) asook die s. o/17 driesprong (12.80m).
‘n Verdere drie silwer medaljes (d.o/16 100m H; d.o/15 100m; s.o/14 verspring) en twee brons medaljes (s.o/17 1500m; d.o/16 800m) word verower.
Hierdie byeenkoms was weereens ‘n groot sukses en CHS bedank graag elke borg en atleet wat die dag ondersteun en moontlik gemaak het. Dit bly ‘n voorreg om ‘n byeenkoms van hierdie grootte en gehalte te kan aanbied.
Op die foto bo:
LJ van Zyl, Olimpiese atleet en Elsabè du Plessis, CHS se steratleet in ligte luim tydens Hoërskool Cradock se Bestmed, TAMS Superspar en Madibaz Skole Top 10 byeenkoms op 14 Oktober.