CHS se o/19A-netbalspan het op Vrydag 27 April 2018 na Oudtshoorn vertrek om aan die Klein Karoo-toernooi te gaan deelneem. Dit was ‘n baie goed georganiseerde toernooi waaraan 11 skole deelgeneem het. Groot skole soos Punt (Mosselbaai), Nico Malan, Worcester Gimnasium, Duineveld (Upington), Worcester Drostdy, Jim Fouche, Oudtshoorn, Langenhoven Gimnasium, Brackenfell en Robertson het deelgeneem.
Op Saterdag 28 April 2018 moes elke span 7 verkorte wedstryde speel. Die eerste wedstryd teen Oudtshoorn het op ‘n sopnat baan plaasgevind en CHS verloor met 22 – 8. Worcester Gimnasium was ook te sterk en die eindtelling was 20 – 11. Teen Nico Malan het CHS baie goed gespeel en was ongelukkig om met een doel te verloor Die eindtelling was 18 punte teenoor 17. Teen Langenhoven Gimnasium het CHS ook baie hard probeer, maar het met 19 – 15 verloor. Duineveld was gedugte teenstanders en alhoewel CHS nooit opgegee het nie, het hul met 29 – 19 verloor. Jim Fouché, die uiteindelike wenner van die toernooi, het ‘n baie lang hulpdoel. CHS kon geen teenvoeter hiervoor vind nie en het met 41 – 12 verloor.
Op Maandag 30 April 2018 is drie wedstryde gespeel. Ook Punt was te sterk. Die eindtelling was 31 – 9 in hulle guns. Teen Robertson het die wedstryd met 22 doele elk gelykop geëindig. CHS het baie goed gevaar om in die laaste doodsnikke van die wedstryd die gelykmakende doel aan te teken. Teen Drostdy was die telling 19 – 14 in die teenstanders se guns. Die gehalte van die netbal op die toernooi was baie goed, maar CHS het nooit moed opgegee nie en was kompeterend in die meeste van die wedstryde. Die ondervinding wat hier opgedoen is, sal hopelik goeie uitslae in die plaaslike wedstryde oplewer.
Ilana Steenkamp het na die toernooi ‘n sertifikaat en medalje vir die beste Cradock-speler tydens die toernooi ontvang. Sy het veral gedurende die eerste rondte wedstryde die Maandag baie goed gespeel. Houghlynne Swarts het ook baie goeie spel gelewer en selfs op Hulpverdediger diens gedoen en uitgeblink. Tamsyne Lottering het hierdie seisoen ook ‘n welkome terugkeer tot die netbaalbaan gemaak en was ‘n staatmaker tydens die toernooi. Elke ander speler het hul hart uitgespeel en waardevolle ondervinding opgedoen.
Tydens die toer kon die spelers ook onder andere George besoek. Die pragtige Outeniekwaberge, Meiringspoort, Victoriabaai en Wildernis het hulle horisonne verbreed.
Die span het bestaan uit: Ilana Steenkamp (kaptein), Houghlynne Swarts (onderkaptein), Tamsyne Lottering, Chamrine Booysen, Sigcobile Nkosana, Lenay Booysen, Simamkele Shweleni, Andrea Felix, Anika Hay en Nicole le Perie.
Mev. Ilse Opperman (afrigter) en Réze Opperman (assistent-afrigter) het die groep dogters vergesel.
Op die foto bo:
Ilana Steenkamp ontvang ‘n medalje en sertifikaat as die beste Cradock speler by die toernooi. Saam met haar is mev. Ilse Opperman, afrigter van CHS se eerste netbalspan.