Dit is lekker om Inter skole te wen
Die jaarlikse interskole tussen Hoërskool Cradock en Gill Kollege het op 26 en 27 Julie plaasgevind.
Dit was ‘n ekstra-spesiale naweek vir Gill Kollege aangesien dit saamgeval het met die vieringe van hul 150ste bestaansjaar.
Die verrigtinge het die Vrydag-oggend afgeskop met oorwinnings vir CHS in kookkuns, redenaars, junior vasvra en tennis.
Ander gebiede waar meegeding is, was muurbal, skaak, sang en gholf.
Saterdag se verrigtinge het groot belangstelling gewek, toe daar op die rugby-, netbal- en hokkievelde meegeding is.
Tradisioneel is dit ‘n dag wat gekenmerk word deur harde en hoogs kompeterende wedstryde.
Hierdie jaar was geen uitsondering nie.
Die rugby is afgeskop deur die o/14’s in ‘n tierende wind wat dwarsdeur die dag ‘n groot rol sou speel in die gang van al die
wedstryde. Hierdie wedstryd is deur Gill met 12-7 gewen. CHS se o/15-span, wat ‘n uitstekende seisoene beleef het, het hulle
wedstryd met 17-5 gewen, en kort daarna het die o/16’s hulle dit nagedoen, deur as oorwinaars met 20-12 van die veld te stap.
In die 2de span se wedstryd het Gill ‘n goeie oorwinning van 29-12 behaal.
In die wedstryd tussen die eerste spanne het Gill Kollege soos ‘n stoomtrein afgeskop enbinne die eerste paar minute oorgegaan
vir ‘n onverdoelde drie om met 5-0 voor te loop. CHS het egter kort daarna twee keer punte aangeteken: eers met ‘n strafdoel en
toe met ‘n mooi drie om die telling op 10-5 te staan gebring. Alhoewel Gill gou teruggeslaan het met ‘n mooi drie deur die agterlyn,
het dit gaandeweg al hoe duideliker geword dat Gill nie ‘n antwoord gehad het op veral die maalbewegings van CHS se pak voorspelers nie.
Een so ‘n maalbeweging het dan ook kort voor rustyd uitgeloop op ‘n onverdoelde drie vir die Cradockers om die rustydtelling op 15-12
vir CHS te staan te bring. Kort na rustyd het die rolmaal weer vrugte afgewerp vir die besoekers uit Cradock toe ‘n verdoelde drie die telling
op 22-12 te staan gebring het. CHS sou hierna nooit weer die lei afstaan nie. ‘n Verdere twee verdoelde drieë deur Gill Kollege en een deur
CHS het die eindtelling op 27-24 ten gunste van CHS te staan gebring. Die eerste oorwinning op Gill se tuisveld sedert 2011!
Op die netbalbaan het CHS met ses spanne teen Gill op Somerset-Oos kragte gemeet. CHS het twee wedstryde gewen, drie wedstryde
het gelykop geëindig en Gill het een wedstryd gewen.
CHS se eerstespan het na die eerste kwart met 5 – 4 agtergeloop. CHS het egter ‘n baie beter tweede kwart gespeel en teen rustyd
was die telling 10 – 6 in CHS se guns. Gill het in die derde kwart baie goed gespeel en hulle het met 13 – 12 gelei aan die einde van die
derde kwart. Die laaste kwart was weer baie gelykop en die wedstryd eindig met 15 doele elk. Die winderige omstandighede het veroorsaak
dat die doele gesukkel het om doele aan te teken.
In die o.19B-wedstryd het CHS ‘n goeie oorwinning van 15 – 6 behaal.
Die o.16A-spanne het ook gelykop met 11 doele elk gespeel. CHS het baie kanse om hierdie wedstryd te wen, verspeel.
Die o.16B’s het ‘n gerieflike oorwinning van 22 – 9 behaal. Beide CHS se o.16A- en B-spanne het die jaar onoorwonne afgesluit.
Die o.16C-span het met 9 doele elk gelykop gespeel teen Gill se o.14-span. Gill was met 18 doele teen 4 te sterk vir CHS se o.14A’s.
CHS se hokkiespanne het tydens die interskole puik hokkie gespeel. Die eerste en tweede spanne het in harde wedstryde die druk van
interskole baie goed hanteer en beide wedstryde het gelykop geëindig.
Die tweede span met ‘n telling van 0 elk, terwyl die eerste span met 2 elk geëindig het.
Aangesien Gill nie seunshokkie het nie, het CHS se seuns teen D.F.Malherbe gespeel en ongelukkig die wedstryd met 1-4 verloor.