Schools That Rock het ‘n paar vrae aan Tiaan Erasmus van Hoërskool Adamantia, Kimberley gevra.
Vraag: Hoe sien jy die invloed van die Covid19 virus op ons land?
Dit is baie duidelik dat die Virus ‘n baie groot impak op ons land en veral sy ekonomie het. Ons land is ongelukkig nie sterk genoeg om hierdie finansiële las te dra nie en daarom is dit moeilik vir ons mense om in hierdie tyd kop bo water te hou.
Vraag: Dink jy dat die virus ‘n invloed op toekomstige onderwys gaan hê? Gaan skole anders kyk na onderwys?
Ek dink nie dit gaan so groot impak in die langtermyn op die onderwys hê nie, al wat ek dink kan nou gebeur is die rippel effek van die virus, want wanneer die Matrieks nie kan klaar maak nie, staan alle grade stil omdat niemand bevorder kan word nie en dan kry die tersiêre onderwys ook nie nuwe studente in nie.
Skole sal hopelik in die toekoms meer voorbereid en op datum wees indien so iets ons weer tref en ‘n plan B hê om die impak wat dit op die sisteem het nie so swaar te maak nie, maar die opsies wat daar wel is, soos tuisonderrig, sal probeer en dan natuurlik om vir alle leerders dieselfde toegang te gee in die sin van internet en aanlyn klasse, omdat, soos ons almal weet, nie alle leerders die vooreg het om ‘n rekenaar of selfs ‘n selfoon te besit nie. Dan praat ons nog nie eers van die data wat jy benodig nie.
Vraag: Hoe beplan jy om steeds jou doelwit vir jou laaste jaar op skool te bereik?
Ek het geen twyfel daarin dat ek nie my doel sal bereik nie, al is ons in ‘n moeilike tyd. Ons is bevooreg om ‘n ongelooflike span onderwysers by ons skool te hê wat omgee vir ons en uit hulle pad sal gaan om ons te help om wel aan die einde van die jaar met ons NSS weg te stap. Maar om dit te bereik is nie net ‘n eenman werk nie. Ek sit self in die tyd en werk solank aan dit wat ek kan en dit wat ek verstaan sodat ek voorbereid is vir wanneer die skole weer oopmaak.
Vraag: Wat beplan jy vir jou toekoms? Loopbaan?
Ek wil baie graag in die vermaaklikheidsbedryf ingaan, veral agter die skerms werk en die tegniese aspekte van dit wat ons op die TV geniet. Ek hoop regtig dat hierdie virus nie so groot impak op die toekoms sal hê nie en dat alles en almal so gou moontlik weer terug na normaal sal verkeer.