Foto: Truné en haar ma, Marizenne Prinsloo. Albei was die Hoër Meisieskool Oranje se gesamentlike duxleerder
Vir die tweede agtereenvolgende jaar het die Hoër Meisieskool Oranje se duxleerling haar ma nagedoen wat destyds ook eerste in gr. 12 in Oranje gestaan het.
Truné Prinsloo en Ivanke van Jaarsveld deel vanjaar die nr. 1 posisie met 93.7%. Truné se ma, Marizenne, was in 1988 ook die gesamentlike dux-leerder van Oranje. Marizenne (toe Bosman) en Marianne du Toit het albei destyds ses onderskeidings behaal.
Truné, wat vanjaar vir die Suid-Afrikaanse o.18-hokkiespan sou gespeel het (dis deur Covid-19 in die wiele gery), het onderskeidings in al sewe haar vakke behaal. Sy het die beste in haar graad in rekeningkunde (94.7%) en wiskunde (97.2%) gevaar.
Verlede jaar het Gabriela von Eschwege haar ma ook nagedoen deur die beste in matriek in akademie te presteer. Haar ma, Kornelia (toe Von Delft) was in 1986 Oranje se duxleerling.