Dijan Nelson Die Wilgers. Schools That Rock is bevoorreg om ‘n paar vrae te vra aan Dijan Nelson, President/ Hoofseun 2021/ 2022 van Hoërskool Die Wilgers in Pretoria.
Vertel ons van jouself en jou leierskap. Ek is ʼn gedrewe, hardwerkende leier wat streef na sukses, maak nie saak wat in my pad staan nie.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Die Wilgers jou vir die rol as leier voorberei? Hoёrskool Die Wilgers bied aan elkeen geleenthede vir ontwikkeling en prestasie. Gedurende my 4 jaar in die skool het ek die geleentheid gehad om die skool se bergfietsspan te stig, ʼn lid te wees van die skool se Beheerliggaam en om op die Junior Stadsraad van Pretoria te dien. Bogenoemde het hardwerkendheid, uithouvermoё en ʼn strewe na sukses in my aangewakker.
Wat is jou persoonlike doelwitte vir die volgende jaar? Ek wil aan my diplomasie werk, meer verhoudings met my mede-skoliere bou en ‘n 90%-gemiddeld, met 9 onderskeidings handhaaf.
Wat is jou doelwitte vir HSDW tydens jou dienstermyn? Om die algehele samehorigheid en respekvolle kultuur in die skool te behou en daarop voort te bou.
Wat was die grootste uitdagings wat jy ervaar het as Wilgie? Soos wat ek van te vore gesê het, is Hoёrskool Die Wilgers ʼn skool van geleenthede, ontwikkeling en prestasie. Ek was as Wilgie bevoorregd genoeg om geen uitdagings te ervaar nie.
Wat staan vir jou die meeste uit by HSDW? Die heersende kultuur van respek en samehorigheid in die skool. Die eende en ganse is ook ʼn groot pluspunt.
Jy is ‘n kombuisartikel? Wat is jy en hoekom? ʼn Mes. Altyd gereed en vlymskerp. Indien ek nie skerp is nie kan ek geslyp word. Dit wil sê, ek is gereed vir onverwagse omstandighede en as ek tekortkominge het, is ek gereed en bereid om daaraan te werk.
Hoe sou jou vriende jou beskryf? Jy sal vir hulle moet vra.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik? Die voordele wat my ideale vir my toekoms inhou, is motivering genoeg om hulle te probeer bereik.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van ons skool te word? Daar is ʼn plek vir almal in ons skool. Enigiemand kan inskakel en al die voordele van die skool se geleenthede, ontwikkeling en prestasie beleef.
Wie is jou gunsteling onderwyser en hoekom? Juffrou Smit. In haar klas is daar nooit ʼn vervelige oomblik nie.
Wat is jou toekomsideale? Ek sal graag ʼn Sagteware ingenieur wil word en na Nederland emigreer.
Foto verskaf
Lees meer oor HSDW: