Marike Pauw Die Wilgers. Schools That Rock is bevoorreg om ‘n paar vrae te vra aan Marike Pauw, Adjunk-President/ Hoofdogter 2021/2022 van Hoërskool Die Wilgers in Pretoria.
Vertel ons van jouself en jou leierskap. Ek is Marike Pauw. Dit is vir my ‘n groot voorreg en eer om as Hoofmeisie van Hoërskool Die Wilgers vir 2012/2022 te dien. Ek weet dat ‘n mens niks in hierdie wêreld alleen kan doen nie, maar as jy saamwerk as ‘n span, met God as jou Leier, kan jy berge versit en hiermee wil ek my termyn as Hoofmeisie aanpak.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Die Wilgers jou vir die rol as leier voorberei? Ek was bevoorreg om reeds vanaf graad 8 op die VLR te dien en was ook vir drie van hierdie jare gekies vir die Noord-Gauteng Perdryspan. Beide het my geleer dat deursettingsvermoë, dissipline en moeite resultate lewer. Verder het die vorige jare se hoofleiers vir my ‘n goeie voorbeeld gestel en ek het geleer dat spanwerk ongelooflik belangrik is. My vriende het my altyd bygestaan in alles wat ek doen en ek weet: ek kan altyd op hulle vertrou en leun as ek deur ‘n moeilike tyd gaan of hulp benodig. Ek weet dat daar dalk nog baie moeilike tye gaan wees in die jaar wat kom, maar ek is gerus omdat ek weet ek het mense wat my ondersteun en die belangrikste – God hou my in Sy hande.
Wat is jou persoonlike doelwitte vir die volgende jaar? Ek wil graag die beste leier wees wat ek kan wees vir my skool, maar ook ‘n steunpilaar vir ander. Iemand na wie hulle kan kom as hulle sukkel en iemand wie hulle kan vertrou.
Wat is jou doelwitte vir HSDW tydens jou dienstermyn? My doel is om mense se persepsies positief te beïnvloed rakende die beeld wat hulle van ons skool het. Ek wil graag mense meer betrokke laat raak by die skool en verder bou saam met my medeleiers.
Wat was die grootste uitdagings wat jy as Wilgie ervaar het? Persoonlik voel ek dat ek baie geseënd is en nog nooit regtig as Wilgie ‘n ernstige uitdaging ervaar het nie, omdat ek altyd my vriende se ondersteuning en hulp gehad het.
Wat staan vir jou die meeste uit by HSDW? Wat vir my die meeste uitstaan, is dat elkeen ‘n plek en ‘n doel het in die skool. Elkeen is goed genoeg vir iets. Jy hoef nie die beste van die bestes te wees om span te haal nie; of die slimste van die slimstes te wees om raakgesien te word nie. Jy het ‘n plek, jy word gehelp en die geleentheid gegee om te ontwikkel en uiteindelik te presteer.
Jy is ‘n kombuisartikel? Wat is jy en hoekom? Ek is ‘n paplepel. Ek kan gebruik word om goed te meng en iets wonderlik te vorm; maar as dit nodig is, kan ek ook dissipline toepas.
Hoe sou jou vriende jou beskryf? Omgee-hart, liefdevol, hardwerkend en altyd reg vir ‘n uitdaging.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik? Ek het baie hoë verwagtinge van myself en as ek dit nie bereik nie, is ek teleurgesteld in myself. Dit motiveer my om harder en beter te werk. My ouers het my al van kleins af geleer dat jy hard moet werk vir dit wat jy wil hê. Dít motiveer my, want ek weet as ek nie gaan hard werk nie, gaan ek nie my doelwitte behaal en drome bereik nie.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van ons skool te word? Jy beteken iets in Hoërskool Die Wilgers, jy het ‘n plek hier en ‘n doel. Jy groei en ontwikkel om uiteindelik “Diep Gewortel” te wees.
Wie is jou gunsteling onderwyser en hoekom? Juffrou Cobie. Sy het altyd sulke positiewe energie om haar en straal lewe uit. Sy is die rede dat ek van Engels hou, al is dit nie my beste vak nie. Haar unieke sprankelende persoonlikheid is die hoogtepunt van jou dag. Sy het ‘n passie vir God en deel dit graag met ons kinders.
Wat is jou toekomsideale? Ek sal graag ‘n dokter wil word, mense help, op ‘n plaas bly en natuurlik… ‘n Toyota Land Cruiser ry, want daar is net geen ander opsie nie!
Foto verskaf
Lees meer oor HSDW: