Hoërskool Cradock se eerste tennisspanne het van 22 tot 24 Februarie 2018 deelgeneem aan die jaarlikse Tjaart Vorster Tennistoernooi wat plaaslik deur die Hoër Landbouskool Marlow aangebied word.
Die dogters het goed gevaar en hul wedstryde teen Hoërskool Sentraal, Hugenote en Bethlehem Voortrekker Hoërskool oortuigend gewen met 16-11, 17-11 en 19-8 onderskeidelik. Die spanne van Hoërskool Outeniqua en Claredon blyk egter te sterk te wees en die Kwaggas moes ongelukkig die knie buig in hierdie kragmetings. Ondanks hierdie verliese en te danke aan sterk spel van al die spanlede eindig die eerste dogterspan van CHS vierde in die toernooi.
Die eerste seunspan van CHS ervaar ‘n heel ander toernooi met ‘n besering-geteisterde span wat sukkel om ‘n wen te beklink. Die manne hak egter die knoop deur in hul wedstryd teen Daniel Pienaar. Hoewel die toernooi-uitslae nie na wense was vir hierdie span, kan daar melding gemaak word van die sterk individuele spel van beide Daniel Tam en Yahron van Dyk. Te midde van verlies was die spangees van CHS se eerste seunspan ook opvallend, ‘n pragtige getuienis van hul karakter.
Welgedaan Kwaggas!
Op die foto bo:
CHS se eerste dogterstennisspan, en hul gelukbringer, in ‘n vrolike bui na hul oorwinning oor Hoërskool Sentraal.
Vlnr: Ciska Kitchen, Lente Taljaard, Elize-Marie Gerber, Anika Marias, Jani Hatting, Adri Henning
Voor: Ilana Steenkamp (kaptein)










