Carl Roothman, Graad 8-leerder en Eerstespan-tennisspeler van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, het verlede week uitstekende tennis gespeel deur die Growthpoint SA Junior Masters-tennistitel vir o.14-seuns in Potchefstroom te wen.
Die Masters is die gesogte nasionale tennistoernooi waar slegs die top spelers in elke ouderdomsgroep in Suid-Afrika genooi word om aan deel te neem. In die o.14-seunsafdeling was slegs die top 16 spelers in die ouderdomsgroep genooi.
Carl, die 4de gekeurde, het deur die week baie goeie tennis opgelewer en daarin geslaag om die 1ste gekeurde Devan Badenhorst van Gauteng-Noord in die finaal Sondag met 6/0 7/5 te wen.
Carl het ook vroeër vanjaar die Afrika-Beker-titel gewen en was toe aangewys as die beste o.14 seunspeler in Afrika.
Baie geluk aan Carl met hierdie pragtige prestasies.