Augsburg Landbougimnasium. Wat weet jy van Augsburg Landbougimnasium se kontrei, Clanwilliam? Van berg, see, vlakte en vallei?
Waar kry jy nog ‘n Sederboom, anders as die Sederberg se boonste soom? Hier groei die proteas, ribbok baljaar en sneeu val in die koue najaar. Waar koue branders teen die rotse waai lê die Atlantiese see by Lambertsbaai. Kreef en snoek en spierwit strand waar mense in Desember in die son gaan brand.
Wat weet jy van die Olifantsvallei? Van lemoenbloeisel se geur vir jou en vir my? Waar die soetste lemoene aan die bome hang en die Olifantsrivier kronkel tot in Clanwilliam se dam. Die Sandveld is die land se aartappelspens waar lande lȇ tot aan die see se grens. Ken jy die wêreld van die rooibostee? Wat groei in die berge, die Sandveld, tot teenaan die see?
Wat weet jy van Leipoldt se kontrei, van Pakhuispas tot die Biedouw-vallei? Waar blomme tot teen die hange staan en blommekykers God se wonders probeer verstaan. Ek hoop jy ken nóu ons kontrei van berg, see, vlakte en vallei. Van boesmantekeninge, fynbos, veldskoene en tee.
Kom kyk gerus wat die Skepper vir ons gee. Ons is seker elkeen sal dit waardeer en vir ons kom kuier wѐer en wѐer en wѐer!


Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf
Become a Sponsor








