Kreatiwiteit het in die grendeltydperk gedy en inskrywings vir die “nuwe” ATKV-Tienertoneel het behoorlik ingestroom. Soveel so, dat die sisteem met tye effe gewankel het en meer inskrywings as verlede jaar ontvang is. Dit is vir die ATKV ’n voorreg om die TOP 20-finaliste bekend te stel.
Deelnemers is vanjaar, meer as ooit tevore, uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (huis, isolasie, ingeperk, staties, alleen) in te skryf.
Hierdie nuutskeppings moes dan voor ’n kamera lewe kry en sewe mentors (Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg) beïndruk.
Volgens Amalia Uys, bekende aktrise en ook een van die mentors, is sy verstom oor die materiaal wat hulle sien.
“Daar is so baie talent daar buite en ek is bitter opgewonde om te sien hoe elke kind ontwikkel en hoe van hulle eendag ons land se beste akteurs/regisseurs en kunstenaars gaan word. Ek lag en huil gelyk. Daar is soveel lewe in hierdie jongmense en hulle werk met GROOT temas. Ek haal my hoed vir hulle af en ek eer hulle.”
Hou die ATKV se webwerf en sosiale media dop wanneer die TOP 10-finaliste op 16 Oktober bekendgemaak word.
Die TOP 10 se laaste monoloog-opname sal ook op die ATKV se webwerf en sosiale media platforms vir die kykerskeuse-veldtog gelaai word sodat kykers vir hul gunsteling kan stem.
Die nasionale finaal word 14 November regstreeks aanlyn uitgesaai. 500 uitgenooide gaste skakel saam met die finaliste en mentors op ons digitale teaterplatform via Zoom in.
’n Digitale bundel met die toptekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90 – 100%] toekenning ontvang het) sal ook bekendgestel word.
Die TOP 20 is die volgende:
- Alma van Heerden van die Kuswag Skool met “Alleen”.
- Anja Pieterse van die Hoërskool Stellenbosch met “Altyd Johan”.
- Christiaan Bell van die Hoërskool Stellenbosch met “’n Gebed”.
- Chrizelle Strydom van die Hoërskool Upington met “Wegbreek”.
- Eckard van Heerden van Grey Kollege Sekondêr Bloemfontein met “Die bloed in my oë”.
- Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck met “Skeletons”.
- Jeanne-Marié Koekemoer van die Hoërskool Stellenbosch met “Val”.
- June Kruger van die Hoërskool Paarl Vallei met “Wentelkind”.
- Jurie Boshoff van die Hoërskool Hugenote met “Kollig”.
- Betsy Wilke van die Hoërskool Jan van Riebeeck met “Amoeba”.
- Khali Young van die Hoërskool Sasolburg met “Alleen”.
- Kristen Fichardt van Hoër Meisieskool Oranje met “Brandwonde bloei nie”.
- Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville met “My Matilda en die Chinees”.
- Merwe van Gent van die Hoërskool Wesvalia met “Ingeperk”.
- Nichola Viviers van die Hoër Meisieskool Bloemhof met “Bonuspunt/(Miss)ogyny”.
- Ninke Theron van die Hoërskool Stellenbosch met “Mamma en ek”.
- Nita de Jager van die Hoër Meisieskool Bloemhof met “Lockdown is ’n droom”.
- Tristen Bruyns van Grey Kollege Sekondêr Bloemfontein met “Isolasie”.
- Tylo Ras van die Hoërskool Tygerberg met “Vreesloos”.
- Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof met “Ek is alleen”