Die skoolkoor van Hoërskool Cradock, onder leiding van mev. Anne Bekker, is vanjaar sestig toegewyde stemme sterk. Sedert Februarie is nuwe liedere aangeleer en elke moontlike oefentyd benut. In ‘n skool met ‘n propvol buitemuurse program, is dit altyd ‘n gestoei om ‘n oefentydsgleuf vir elke aktiwiteit te vind. Vir diegene wat ‘n voorliefde vir sang het, is daar egter altyd ‘n geleentheid om te oefen.
Verlede Woensdag het hierdie koor, met mev. Linda Taylor as begeleidster, aan die ATKV Applous-kompetisie deelgeneem. Die plaaslike been van hierdie kompetisie het in Despatch plaasgevind en altesaam 12 kore vanuit die provinsie het hier deelgeneem.
Elke koor moes een religieuse, een Afrikaanse, een Engelse asook een tradisionele Suid-Afrikaanse lied sing. CHS se koor het baie netjies en entoesiasties vertoon en is uiteindelik deur die nasionale beoordeelaars met ‘n brons medalje beloon.
Die koor het ook die afgelope Dinsdag tydens ‘n optrede deur Emile Minnie twee liedere saam met hierdie bekende musikant gesing.